Die 2023 SA Terroir Wyntoekennings se top-presteerder met die beste gehalte inskrywings vanjaar is Rietvallei Landgoed in Robertson, wat daarmee ook die meeste top-landgoed-geproduseerde wyne opgelewer het.
Rietvallei het nie net die SA Terroir-trofee vir die topprodusent verower nie, maar ook vir die derde jaar agtereenvolgens met die trofee vir die top-landgoed weggestap. Hulle het twee nasionale wenners opgelewer, naamlik die Rietvallei JMB Cabernet Franc 2019 en die top- rooi versnit, die Rietvallei Estéanna Cabernet Sauvignon/Cabernet Franc 2019, asook ses areawenners in die Robertson-distrik.
Die uiters gesogte SA Terroir-trofee vir die topwyn uit al die inskrywings van alle style en kultivars is vanjaar aan ’n vyf jaar oue cabernet sauvignon uit Stellenbosch toegeken, die Alto Cabernet Sauvignon 2018. Hierdie landgoedwyn is as die algehele wenner aangewys uit die 264 wyne wat beoordeel is vir die eksklusiewe SA Terroir Wyntoekennings.
Die vyf SA Terroir Wyntoekennings-trofeë wat toegeken is, het vanjaar uit vier verskillende wynterreine in die Kaapse wynland gekom, naamlik Malmesbury, Robertson, Stellenbosch en Elgin. Die nasionale wenners van al die style en kultivars het hul oorsprong uit meer as 15 terreine in die Kaapse Wynland en sodoende werklik die verskeidenheid van terroir-gedrewe wyne beklemtoon.
Altesaam 35 wyne het die hoogste punte behaal om as nasionale wenners aangewys te word.
Plaaslike kelders van Breedevallei en -rivier, asook Witzenburg wat toekennings ontvang het, is:
. Cabernet Franc 2019 Rietvallei;
. Cape Style 2017 Stettyn Family Vineyards Cape Vintage;
. Chenel 2021 Springfontein Terroir Selection Chenel (gehout);
. Chenin Blanc 2021 Bergsig Patmos Chenin Blanc Reserve (gehout);
. Grenache 2020 Saronsberg;
. Lae Alkohol Rosé NV Slanghoek Vinay Vin Rosé;
. Mourvèdre 2020 Saronsberg;
. Muskadel 2015 Nuy Barbiri Idro; Barrel Matured Red Muscadel;
. Rooi Versnit: 2019 Rietvallei Estéanna Cabernet Sauvignon/Cabernet Franc; en
. Viognier 2022 Deetlefs Signature.




