Die ACVV- Huis Maudie Kriel het verlede week sy bevinding bekend gemaak ná sy ondersoek rakende die dood van Sagrya Engelbrecht.
Volgens die provinsiale polisiewoordvoerder kol. André Traut duur die polisie-ondersoek na die voorval egter voort.
Die 81-jarige Engelbrecht is vermoedelik die aand van 6 Augustus buite Huis Maudie Kriel in Ceres vergeet nadat sy uitgeneem is om te gaan rook. Die ACVV het sy bevinding nou – ’n maand ná die voorval – bekend gemaak.
Die inleiding van die uitspraak lui as volg: “ ’n Verskriklike hartseer sameloop van omstandighede het gelei tot ’n tragiese voorval Saterdag 6 Augustus by Huis Maudie Kriel. Die nodige ondersoek is van stapel gestuur en ses personeellede is van wangedrag aangekla. Mondelinge getuienis asook skriftelike bewysstukke en beeldmateriaal is oorweeg.”
Volgens die tehuis se prokureurs is gerugte dat die bogenoemde ses personeellede geskors is, onwaar.
In die tehuis se verslag word in diepte verduidelik wat op hierdie noodlottige aand gebeur het.
“Mev. Engelbrecht is deur die studente-versorger, wat haar praktiese opleiding by Huis Maudie Kriel gedoen het, uit die kamer na die rookarea in die rolstoel gestoot. Die betrokke student het teruggekeer en versuim om die dagskof-personeel in te lig dat sy mev. Engelbrecht uitgeneem het en dat mev. Engelbrecht, soos gewoonlik, verkies om nog ’n ruk in die rookarea te vertoef.”
Die verklaring verduidelik ook dat Engelbrecht, voordat sy uitgeneem is, badkamer toe gestap het en weer terug na haar kamer, waar sy haar nagklere aangetrek het. Die studenteversorger het haar toe gehelp om in die rolstoel te klim.
Die verslag maak ook melding dat die drie dagskofpersoneellede in beheer van die area waar Engelbrecht se kamer was, niks genoem het van Engelbrecht nie.
“Dit is slegs teenoor die nagskof genoem oor inwoners wat medikasie of ander hulp gedurende die nag sou benodig.”
Later het een van die nagskofpersoneellede opgemerk dat sy nie in haar kamer is nie. Hul verklaring verduidelik ook dat een van die personeellede later in die aand opgemerk het Engelbrecht se bed is leeg, maar het gedink sy is uitgeboek om te gaan kuier, en ook dat haar kamermaat ten tyde van die voorval in die hospitaal was.
“Die nagskofpersoneel het opgemerk dat mev. Engelbrecht nie in haar kamer was nie en verkeerdelik aanvaar dat sy uit is vir besoek aan haar familie. Haar kamermaat was ten tyde van die voorval in die hospitaal en nie in die kamer nie.
“Een van die nagskofpersoneellede het verkeerdelik die bed van mev. Engelbrecht opgemaak, die kamerlig afgesit en nie die register gaan nagaan dat die aanname dat mev. Engelbrecht by haar familie kuier, korrek is nie.”
Die oorledene is toe die volgende oggend omstreeks 06:50 deur die kombuispersoneel gevind.
“Alarm is gemaak en sy is na haar kamer teruggeneem, waar noodbehandeling toegepas is. Die bestuur en ambulansdienste is ontbied. Hoewel mev. Engelbrecht volgens observasies nie verkluim het nie, is sy oorlede en die oorsaak tans onbekend,” lui die tehuis se verslag.
Die ses personeellede wat in ’n tugverhoor op verskeie aanklagte van wangedrag verhoor is, is skuldig bevind.
“Verskillende sanksies met sekere opskortingvoorwaardes is opgelê. Die sanksies wissel van finale skriftelike waarskuwings en verpligte bywoning van verdere opleidingsessies tot afdanking.”
In die verklaring word ook gesê die sterfte van Engelbrecht het die gemeenskap, asook die bestuur en personeellede van die tehuis, erg getraumatiseer.
“Die baie hartseer voorval en tragiese afsterwe van mev. Engelbrecht het die gemeenskap geskok en die bestuur en personeel van Huis Maudie Kriel erg getraumatiseer.
“Dit is opmerklik dat almal mev. Sagrya Engelbrecht met mooi herinneringe onthou en ten spyte van die ongelukkige gebeure, toon die bewysmateriaal dat sy met groot deernis deur die betrokke studente-versorger hanteer is. Aangesien die studenteversorger nie in diens was by Huis Maudie Kriel nie, maar haar prakties op versoek van die opleidingsinstansie gedoen het, is sy nie ’n werknemer wat dissiplinêr aangekla kan word nie. Sy was twee dae kort van voltooiing van haar praktiese opleiding.”
Benewens die strawwe wat aan ses van die personeellede opgelê is, word aanbeveel dat alle prosedures en rekordhouding weer deur die bestuur nagegaan en nakoming daarvan opgeskerp word.
Engelbrecht se familie het aan Standard gesê hulle wil eers seker maak oor wat presies hulle in hierdie stadium met die media kan deel.
“Ons is in die proses om uit te vind wat ons vir die media mag sê. Ons wil nie die polisie se ondersoek benadeel nie,” het Sorita Kleyn, een van die oorledene se kinders, gesê.


