Minibus-taxi’s parkeer op die perseel van die McDonald’s-restaurant. Hulle word ook gereeld op nie net onwettige staanplekke nie, maar ook op staanplekke wat vir gestremdes uitgehou is, gesien.Foto: Enrico Claassen


Taxi’s verbonde aan die Worcester United-taxivereniging veroorsaak glo grootskaalse chaos in die middedorp omdat dié voertuie tans die parkeer-ruimtes – wat vir gewone motoriste gereserveer is – beset.

Die rede hiervoor is omdat die huidige hoof-taxistaanplek in Greystraat in Worcester te klein is om die sowat 200 taxi’s verbonde aan die vereniging te huisves.

So sê Charl Jacobs, sekretaris van die Worcester United-taxivereniging. Hy is ook ’n uitvoerende lid van die Boland-streektaxiraad.

Volgens Jacobs het die Breedevallei-munisipaliteit (BVM) sy vereniging sowat agt jaar gelede genader met die voorstel om ’n nuwe taxi-staanplek op te rig ná klagtes van die publiek dat taxi’s hul parkeerruimtes opneem.

“Die vereniging het onmiddellik ingekoop by dié idee, want ons het die behoefte gesien vir die groter taxi-staanplek in Worcester. Daar sou dan ook beter beheer oor die taxi’s in die dorp wees.”

Volgens Jacobs het die BVM op ’n vergadering met die vereniging sowat vier jaar gelede gesê die nuwe en groter staanplek sou agter die destydse Bravo Fresh Produce in Porterstraat opgerig word.

Hy sê ’n gesloer het egter gevolg. Jacobs sê ná talle skrywes aan die BVM het die munisipaliteit sowat ses jaar gelede die groenlig vir die projek gegee.

“Ons was so entoesiasties, maar weer was daar ’n gesloer. Ons het weer navraag gedoen. Sowat twee jaar gelede het ons besluit ons gaan nou tools down oor dié projek.”

Volgens Jacobs het taxi-eienaars en-bestuurders van sy vereniging toe afgesit na die plaaslike verkeersafdeling waar ene mnr. Swarts van die BVM hulle toegespreek het.

Hy sê die volgende dag is die hekke van die nuwe taxi-staanplek toe vir hulle oopgesluit.

Volgens Jacobs het die taxi’s vir sowat twee dae op die nuwe staanplek geparkeer totdat daar klagtes gekom het dat die taxi’s te veel stof maak.

“Ons stel toe voor die munisipaliteit moet gruis op die oppervlakte gooi. “Tot vandag – vier jaar later – wag ons steeds vir die gruis.”

Jacobs sê omdat die huidige taxi-staanplek in Greystraat te klein is, is taxi-bestuurders genoodsaak om op gewone parkeerruimtes te parkeer, wat vir motoriste ’n probleem skep. Hy verwys na taxi’s wat in parkeerruimtes voor en langs die gebou van die Breedevallei-vereniging vir en van mense met Gestremdhede tot by die kantoor van Vallei FM in Grey­straat parkeer. Hy sê in Durbanstraat parkeer taxi’s ook in parkeerruimtes wat vir die publiek uitgemerk is omdat daar te veel taxi’s is.

Hy sê taxi’s parkeer ook op die perseel van die McDonald’s-restaurant asook buite in die straat voor die restaurant in Hoogstraat.

“Dit skep vir ons probleme met die gewone publiek. Veral oor naweke is daar chaos wanneer motoriste byvoorbeeld nie parkeerplek in Hoogstraat voor McDonald’s kry nie.

“Die publiek en selfs sakelui kla by ons. Ons het geen ander staanplek nie. Ons wil die motoriste respekteer.”

Jacobs sê die vereniging lê die probleem voor die deur van die BVM.

Volgens hom is altesame 92 taxi-eienaars verbonde aan sy vereniging en is party eienaars besit tot vyf taxi’s. Hy sê meer as vyf taxi’s per eienaar word nie toegelaat nie. “Hoe kan jy op ’n rank wat gebou is om 34 taxi’s te huisves, altesaam 212 taxi’s laat parkeer?”

Volgens Jacobs het die taxi-staanplek in Greystraat net twee toilette wat vir die publiek gereserveer is, maar taxi-bestuurders is genoodsaak om ook van dié fasiliteit gebruik te maak.

Hy sê die toilette word nie gereeld skoongemaak nie en is onhigiënies.

Jacobs sê hoewel dit die munisipaliteit se plig is, betaal die BVM nie die huur van die vereniging se kantoor nie asook nie die taxi-beamptes en -meesters nie.

Volgens hom dek die vereniging dié uitgawes met die heffings wat hy (die vereniging) van taxi-eienaars vra.

Jacobs sê by die nuwe taxi-staanplek soek hulle minstens ses toilette, ’n kantoor waar onder meer vergaderings gehou kan word en ’n “ordentlike plekkie” waar ma’s hul kinders se doeke kan omruil.

“Ons vra die munisipaliteit om so gou as moontlik die probleem met die taxi-staanplek op te los.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article