Die skade aan die taxi waar dit Beatrice Samuels (52) getref het.


’n “Vriendelike en liefdevolle” ma van vier het op 20 Julie haar laaste asem uitgeblaas toe ’n taxi haar in Eeufeesstraat in Wolseley omgery het.

Volgens ’n familielid van Beatrice Samuels (52) is sy die vorige dag deur die polisie in hegtenis geneem en in aanhouding geplaas weens oproerigheid in die buurt waar sy gewoon het.

“Die volgende oggend gedurende beurtkrag, omstreeks 06:00 tot 06:30, het sy [Samuels] in Eeufeesstraat gestap op pad huis toe, toe ’n taxi haar omgery het,” het die familielid telefonies aan Standard verduidelik.

Volgens die nadoodse ondersoek het Samuels se skedel weens die impak van die taxi gekraak.

Haar arm en been is ook gebreek en haar oë is volgens die familielid ook erg beseer.

Die nooddienste het op die toneel aangekom en Samuels dood verklaar.

Volgens Samuels se familie het sy gereeld in die buurt waar sy gewoon het oproerig geraak terwyl sy onder die invloed van drank was, en het die “mense haar so geken”.

“Wanneer sy nugter was, was sy ’n vriendelike en liefdevolle mens,” het die familielid verduidelik.

Samuels laat vier kinders agter, van wie die jongste een slegs 14 jaar oud is.

Standard het navraag gedoen by die Wolseley-polisie, maar teen druktyd geen kommentaar ontvang nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article