Elke toekenning wat hy ontvang, gee hom nog meer rede om by sport betrokke te bly en dit te ondersteun.
So sê Charles Beukes (71), sportadministrateur, dié week aan Standard Breederivier Gazette nadat hy Dinsdag (12 November) die Lewenslange Prestasie-toekenning van die Kaapse Wynland Sportraad ontvang het.
“Ek het nooit gedink om op dié ouderdom nog toekennings te verwerf nie. Die uitnodiging deur Lorenzo Arendse, voorsitter van die Kaapse Wynland Sportraad, na Dinsdag se toekenningseremonie het as ’n verrassing gekom.
“Ek is dankbaar vir die erkenning ná 50 jaar se diens as administrateur asook beampte opklub-, provinsiale, nasionale en internasionale vlak.”
Beukes dra die toekenning op aan sy seun Charljon Beukes wat hierdie seisoen sy 250ste wedstryd vir Young Hamiltons gespeel het, reeds 21 jaar senior rugby vir die klub speel en self verlede week ’n toekenning by die klub ontvang het as kaptein en beste C-span-voorspeler.
Volgens Charles het hy nadat hy die Western Cape Legends-toekenning in 2008 ontvang het, die Legends Sports Trust by Chipros Community Empowerment begin om kinders finansieel by te staan en bofbal in Worcester te bevorder.
Hy sê destyds toe hy betrokke was by die Suid-Afrikaanse Raad vir Sport (Sacos) het hulle baklei vir gelyke geleenthede vir sportmanne en -vroue.
Volgens hom is dit hartseer dat daar vandag egter nog steeds ongelykhede in die sportwêreld is met betrekking tot geleenthede. Al word jy vir die SA’s gekies, of dit nou is in fietsry, bofbal of enige ander sportsoort, sal jy slegs kan gaan deelneem as jy geld het. Dis so onregverdig, want die skeidslyn is steeds tussen die haves en die haves not”.
In 2018 het Charles die spesiale Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese-komitee (Saskok)-toekenning ontvang vir sy betrokkenheid op provinsiale en nasionale vlak (fietsry en atletiek in ou en nuwe bedeling), provinsiaal (rugby in nuwe bedeling), internasionaal (atletiek in nuwe bedeling). Volgens Charles kom sy jongste toekenning op dieselfde tyd as wat die tartanbaan op Bolandpark in Worcester weer in die kollig is.
“Die herstel van die atletiekbaan en die oprigting van ’n fietsrybaan, nadat die baan in Esselenpark so onseremonieel afgebreek is om ekstra sitplek te verskaf tydens die All Blacks-rugbywedstryd in 1996, met onvervulde beloftes van ’n latere baan, sal altyd my fokus bly.”




