Talle klagtes het die afgelope tyd ingestroom nadat mense op sosiale media die haglike toestand van die verblyf-eenhede by Kleinplasie op verskeie platforms gedeel het.
Kleinplasie is ’n geskiedkundige terrein geleë teen die R60 wat spog met ’n ryke geskiedenis wat dateer uit die 1800’s en is ’n ode aan die Breedevallei, met ’n pertinente fokus op die geskiedenis van landbou in die streek. Die terrein bevat ’n museum, ’n bistro, ’n kroeg, kampering, die Mega Oval-baan, verskeie sale en chalets as verblyfopsie.
Besoekers wat veral die afgelope tyd wou uitspan in een van die nege chalets op die terrein was geskok oor die toestand van die eenhede.
Iemand wat onlangs een van die chalets bespreek het, het haar mening oor die toestand van die eenhede op sosiale media gedeel.
“Dit is nie eens een ster werd nie. Die plek is vervalle, vieslik en niks soos die webwerf se foto’s nie. Ek was eintlik verheug oor die beurtkrag wat ingeskop het, want die musiek wat tot twee uur die oggend gespeel het, was oorverdowend. Laat die plek skoonmaak en begin om alles in stand te hou. Maak skoon en maak reëls oor die geraas en dalk kan Kleinplasie sy glorie herstel. Mense bly sê hoe wonderlik dit was. Ek is baie ontevrede en teleurgesteld,” lui die inskrywing.
Foto’s is ook gedeel wat die erns van die saak aandui. Op van die foto’s is dit duidelik hoe vervalle die eenhede is. Muurproppe is stukkend en val uitmekaar. Stof en vuilgoed hoop op in die hoeke van die kamer. Die badkamers is onnet en dele van die eenheid is in ’n haglike toestand.
Dit is egter nie die eerste keer dat hierdie klagtes uitgelig word nie. Op die soekenjin Google se resensie-platform is talle van dieselfde klagtes gedeel. So ook op Facebook.
Willem Swanepoel skryf: “Wat ’n teleurstelling. Dit is duidelik dat die bestuur geen belangstelling in hul werk het nie. Die plek val uitmekaar.”
Reeds vyf jaar gelede het ’n besoeker, Jacques Boshoff, die volgende gesê: “Ons het bespreek vir twee nagte, maar het vyfuur die oggend ná die eerste nag vertrek. Ons chalet was verwaarloos en vuil, harde musiek van naburige chalets het aanhou blêr en dit was sekerlik die meeste muskiete wat ek al in my lewe gesien op een plek.”
Talle soortgelyke kommentaar en resensies is op die internet beskikbaar.
Daar is wel goeie resensies wat handel oor die museum, die bistro en selfs die kroeg, maar elke resensie wat handel oor die verblyf – en selfs die kampering – is negatief.
Dit is nie die eerste keer dat klagtes oor Kleinplasie die lig sien nie en Standard het al in detail ook berig oor die bestuur se struikelblokke wat diefstal en sabotasie betref.
Kleinplasie word bedryf as ’n erfenisterrein met die Breedevallei-munisipaliteit wat die grondreg oorsien. Die terrein word teen ’n minimale bedrag uitverhuur in ’n kontrak wat stipuleer dat die bestuur, wat die terrein as ’n organisasie sonder winsbejag bedryf, die geboue en terrein moet instand hou en opknap. Hul fokus is ook op ontwikkeling en fokus op die ontwikkeling van werknemers in veral die erfenissektor.
Teen druktyd het die Breedevallei-munisipaliteit (BVM) ontvangs van die navraag erken, maar geen antwoord is op die vrae wat aan hulle gerig is, ontvang nie.
Die huidige direkteur van Kleinplasie, Orton King, bevestig die Kleinplasie Development Initiative (KDI) het ’n huurooreenkoms met BVM om die fasiliteite by Kleinplasie (uitgesluit Worcester Museum) te benut onder uiteengesette voorwaardes.
Standard verneem ook dat hierdie huurooreenkoms tussen die BVM en Kleinplasie vyf jaar gelede in werking getree het en intussen is heelwat kapitaal aan opknapping bestee om dit verhuurbaar te maak.
King voeg by dat daar tans enkele dispute is tussen die munisipaliteit en hul organisasie rakende die interpretasie van sekere aspekte van die ooreenkoms. Dit word ook tans met ’n konsultasieproses hanteer. Hy sê dat die verblyfsopsies (wat chalets op die perseel insluit) egter privaat vir besigheidsdoeleindes uitverhuur word.
“In die verlede is chalets hoofsaaklik vir vakansiedoeleindes en deur gesinne gehuur, maar weens die ligging van Kleinplasie, wat drasties verander het, het die bestuur besluit om alle akkommodasie (insluitend die chalets) as rugsakverblyf aan te bied met die fokus hoofsaaklik op groepe wat dit gebruik tydens opleidingsessies. Vir hierdie doel is dit gewild,” meen King.
King verduidelik dat geen akkommodasie aanlyn verhuur word nie. “Kliënte doen telefonies of per sosiale media navraag waarna aan hulle verduidelik word wat hulle kan verwag.”
Kleinplasie se bestuur is van slegs enkele klagte bewus wat oor die afgelope vyf jaar gerig is. King verduidelik dat daar ’n klagte-prosedure geskep is wat deur kliënte gevolg moet word. Hy sê ook dat hulle altyd besoekers inlig oor die proses.
“Ons bestuur reageer nie op hoorsê en op sosiale en algemene mediaklagtes indien die klagte nie amptelik aangemeld is nie. Ons het baie onlangs ’n klagte gehad van ’n kliënt wat ’n chalet gehuur het. Die klagte is formeel hanteer.
“Kleinplasie se bestuur is daarvan bewus dat die akkommodasie aan sy kliënte se behoeftes moet voldoen om volhoubare besigheid te verseker,” sê King.





