Talle gesinne in Worcester is dakloos gelaat nadat drie brande die afgelope langnaweek hul wonings in puin gelê het.
Die eerste brand, wat talle gesinne se besittings geëis het, het Sondagaand (30 April) omstreeks 20:00 in Hartwiglaan uitgebreek.
Volgens Danny Paulse, ’n bekende in die gemeenskap, is sy familie se informele huise agter in die erf in Hartwiglaan in puin gelaat nadat ’n brand “net skielik” ontstaan het.
“Dit was en is ’n groot skok. Hier woon ook ’n hele paar kinders. Beddegoed, geld, identiteitsboekies, klere en kos is maar net van die goed wat vernietig is,” vertel hy aan Standard.
Hy sê hulle is egter dankbaar dat daar geen lewensverlies was nie, maar is steeds hartseer oor alles wat verwoes is.
Paulse sê die brandweer was blitsvinnig op die toneel, maar die vlamme het alles binne enkele minute verswelg.
Enkele ure ná hierdie brand het nog ’n brand in ’n huis skuins oorkant die pad (ook in Hartwiglaan) uitgebreek. Hierdie huis is ook binne minute in vlamme verswelg.
Michelle van Zyl, een van die inwoners van ’n informele huis agter in die groot erf, het aan Standard vertel hulle het sowat 02:00 Maandagoggend (1 Mei) wakkergeskrik met ’n chaos wat geheers het toe die huise begin brand het.
“Dit het als baie vinnig gebeur. Drie mense, wat ook op die erf woon, het baie seergekry. Hulle is nog in die hospitaal en een wag vir ’n veloorplanting. Vier gesinne se hokke het afgebrand.”
Van Zyl se buurvrou, Shirene Jansen, vertel aan Standard sy het opgestaan en die brand vanuit haar kamervenster gesien.
“Dit was baie groot vlamme en dit was net rook. Ek het opgevlieg en probeer help. My kop is steeds deurmekaar, maar ek onthou die brandweer was binne minute op die toneel. Ongelukkig was alles op daardie tydstip reeds verwoes.”
Ure nadat die twee brande bykans agt gesinne se lewens tot stilstand geruk het, het nog ’n brand omstreeks 10:00 Maandagoggend in Truterstraat, Victoriapark, ontstaan.
Badia Panday en haar gesin se huis is gedeeltelik verwoes nadat ’n brand in een van die slaapkamers uitgebreek het.
“Ek was in my slaapkamer en het net rook gesien. Ek het uitgehardloop en om hulp geroep. Ek het geweet ek moet uitkom, anders kan ek weens rookinaseming omkom. Ek het om die huis gehardloop en iemand voor in die straat raakgeloop, wat my te hulp gesnel het. Hulle het ook reeds toe al die brandweer geskakel. Dit was seker net ’n paar sekondes nadat ek by die hek uitgehardloop het en die brandweer hoor aankom het. Hulle was blitsvinnig,” voeg Panday by.
Sy verduidelik die een slaapkamer, die gang en gedeeltes van die dak is erg beskadig en dit beloop derduisende rande se skade. Sy sê beurtkrag en die skielike aanskakeling en afskakeling van krag laat talle huise weerloos teen kortsluitings.
Die oorsprong van al drie brande is steeds onbekend.. Standard het die Breedevallei-munisipaliteit genader vir kommentaar rakende die brande, maar het teen druktyd nog geen terugvoer ontvang nie.





