Een van Fit2Run se ster-atlete het die afgelope week weer eens die organisasie se naam hoog gehou.
Leetin Syfers, ’n gr. 11-leerder by HTS Drostdy, het Saterdag 6 April die tweede plek by dié jaar se SA Skole- baan-en- veldkampioenskap, wat by Dal Josafat-stadion in die Paarl plaasgevind het, behaal.
Paarl lyk asof dit Syfers se gelukkige plek is, want dit was ook hier waar hy sy eerste silwermedalje by die SA kampioenskap verower het. Die eerste keer was toe hy in 2021 tweede in die 1 500 m-hinderniswedloop was.
Syfers word deur die ervare afrigter Norman Ontong afgerig en die twee het saam besluit om hom van die hindernis na die 800 m-wedloop te skuif. Dit blyk toe asof dit ’n meesterskuif was. Syfers skitter tans in dié item.
Hy het ook twee weke gelede aan die ASA kampioenskap deelgeneem, waar hy vyfde geëindig het. In plaas van om mismoedig te raak, het hy dit as ’n geleentheid gesien om waardevolle ondervinding op te doen. Hy het geleer uit die ondervinding en dit het hom in staat gestel om te verbeter en in Saterdag se wedloop tweede te eindig.
Ontong het al talle atlete na SA glorie gelei. Onder sy menige suksesvolle atlete is die mees noemenswaardige seker Sharlan Boer, Meagan Swanepoel, Leetin Syfer en Eljay Brown. Hierdie vier het elk al SA rekords verbeter.
Chenique Sas is ook iemand wat vir haarself naam gemaak het as ’n atleet toe sy die senior afdeling as ’n junior gewen het.
Ontong het groot drome en ideale vir Syfers.
Hy is tans deel van Fit2Run Academy of Excellence, waar die Fit4life projek gehuisves word. Dit is ’n projek wat beoog om minderbevoorregte kinders se omstandighede deur deelname aan atletiek te verbeter. As Syfers sy volle potensiaal wil bereik, sal hy moet staatmaak op die Friends of Fit2Run-groep. Die Friends of Fit2Run is ’n groep vrywilligers en ondersteuners wat hulp verleen aan atlete waar dit benodig word.
Fit2Run is nou al langer as ’n dekade besig om die toekomstige kampioene van atletiek te help kweek. Fit2Run is ’n organisasie sonder winsoogmerk gebaseer in Worcester en word bestuur deur Norman Ontong, wat self uit ’n familie van goeie atlete kom. Fit2Run is besig om uit brei en meer projekte te takel. Een van hul projekte is die Visie2030-projek wat beoog om te verseker dat Fit2Run wel SA atlete sal oplewer. Dit sal sonder twyfel iets wees wat hulle kan bereik as hulle aanhou om volgens hul leuse te lewe: No matter our achievements, we can always do better. Humility and integrity help us stay grounded. Lead with humility.





