“Dit is doodstil in die woonstelblok, want ons hoor nie meer oom Samie se kitaar nie.”

Dít is woorde van Jo-Wayne Phil, ’n inwoner van Riverview, wat vertel hoe die gemeenskap geruk is deur die afsterwe van die geliefde musikant en kitaarspeler Samuel “Samie” Cupido (60).

Samie was nie net ’n bekende in die Riverview-woonstelle waar hy die afgelope paar dekades gewoon het nie, maar ook oral in die dorp.

Hy was veral bekend vir sy musiek en kon dag en nag kitaar speel, en het ook kitaarlesse vir talle jongelinge aangebied.

’n Mens het hom gereeld met sy kitaar gesien.

Hy is Woensdag 25 Januarie aan hartversaking dood.

“Hy was nogal geswel. Ons was bekommerd oor sy gesondheid en hy het ’n afspraak gehad om die Donderdag dokter toe te gaan. Hy is toe ongelukkig voor dit oorlede. Ons was baie geskok,” vertel sy stiefdogter, Elzeen Cupido, aan Standard.

Sy sê hy was ’n geliefde en gerespekteerde man in die gemeenskap en sy sal hom altyd vir sy passie en liefde vir musiek onthou.

Inwoners was uiters geskok toe die nuus van sy afsterwe op sosiale media gedeel is en ’n magdom mense het kommentaar gelewer oor hoe hulle hom sal onthou. Almal het sy musiek genoem.

Phil sê hy het nie gereeld saam met oom Samie gekuier nie, maar na die musiek geluister wat hy gemaak het.

“ ’n Mens het daardie kitaar veral oor naweke gehoor. Hy was ook bekend in die blok vir sy humor en liefde vir ander mense.”

Henry Campher, ook ’n inwoner van die dorp, skryf op Facebook:

“Rus in vrede, oom Samie. Ek was twaalf jaar oud toe hy my leer kitaar speel het.”

Willy Lomas skryf: “Sjoe, wat ’n skok. Mag hy in vrede rus. Hy was enig in sy soort en almal wat hom geken het, was lief vir hom.”

Samie laat sy vrou, Jacoba, sowel as Elzeen en nog twee stiefkinders agter. . Sy begrafnis sal Saterdag 4 Februarie vanuit Worcester geskied.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article