Worcester het die afgelope week ’n paar noodlottige ongelukke ervaar – een daarvan was die afsterwe van die geliefde fietsryer Johan Nel (56), wat verlede Woensdag (16 Augustus) oorlede is.
Volgens AO Vathiswa Jacobs, woordvoerder van die Worcester-polisie, het die voorval om 05:30 plaasgevind toe Nel en ’n mede-fietsryer, Elana Swart, op die Ceres-pad gery het.
Jacobs het per e-pos verduidelik dat ’n vragmotor Nel van agter gestamp het terwyl hy en Swart in tandem gery het, met Swart voor en Nel agter haar.
Volgens haar het die ambulans- en verkeersdienste voor die polisie daar opgedaag, en met die polisie se aankoms is Nel reeds deur paramedici dood verklaar.
Jacobs het ook gesê dat die bestuurder van die vragmotor nie op die toneel stilgehou het nie, maar aangery het na die Worcester-polisiekantoor waar hy die ongeluk aangemeld het.
’n Saak van strafbare manslag word ondersoek.
Nel het net minder as 33 jaar, sedert 1990 by die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM) as ’n omgewingsgesondheidspraktisyn gewerk.
“Die KWDM betreur die verlies van ’n besonderse en lojale kollega.
“Ons [die KWDM-munisipaliteit] hou sy familie en vriende in ons gedagtes en gebede gedurende hierdie moeilike tyd,” het Anesca Roodt, woordvoerder van dié munisipaliteit, gesê.
Standard het ook uitgereik na Danielle Mans (30), Nel se stiefdogter.
Mans het per WhatsApp verduidelik dat Nel, soos elke tweede oggend, om 03:00 op sy fiets geklim en gaan ry het.
“Hy en [Swart], wat saam met hom gery het, was net verby die bord van Naude Bakstene toe [sy] ’n slag hoor en hulle albei geval het, en toe [sy] opkyk ná haar val was die vragmotor reeds aan die wegry.
“Sy het dadelik na [Nel] geroep, maar hy het geen reaksie getoon nie.”
Die vermoede is dat die Darling-melkwa wat Nel se dood veroorsaak het op die skouer van die pad gery het.
“As jy weet jy het ’n persoon raakgery, hoe ry jy weg?” het Mans gevra.
“Die bestuurder het volgens sy verklaring onveilig gevoel en dis waarom hy nie gestop het nie,” het Mans gesê.
Die familie vermoed dat die vragwa Nel se wiel getref het, en met die trefslag is Nel na agter geslinger voor hy sy kop teen die voertuig gestamp het.
“Ons wag nog vir die nadoodse ondersoek, maar die oorsaak van die sterfte is ’n kopbesering,” het Mans verduidelik.
Volgens haar het haar geliefde stiefpa reeds ’n groot aantal jare in Worcester gewoon.
Sy het ook gesê dat fietsry vir die afgelope nege jaar “sy lewe was”.
Nel het aan beide pad- en bergwedrenne deelgeneem.
“Hy het ons hele familie aangesteek met die fietsry. Sy twee skoonseuns het albei onlangs saam met hom begin fietsry.”
Volgens Mans het sy gesin gereeld gespot en gevra of “hy nie maar met Oros [die naam van sy fiets] wou trou nie.”
Oros is ook die fiets waarmee Nel vir ’n laaste keer gery het toe hy in die noodlottige ongeluk was.
Mans het tong in die kies vertel dat haar stiefpa baie lief vir kos was, asook roomys, al is dit twee grade Celsius buite.
“Hy was die gesin en familie se steunpilaar en altyd bereid om te help.”
Volgens Mans het hy gereeld die raad “dink voor jy reageer” uitgedeel.
Hy was ook altyd die eerste een wat die familie gebel het wanneer daar ’n vraag was.
“Sy raad was vir [die familie] goud werd, en woorde kan nie die groot leemte wat nou oop is in ons elkeen se lewe uitdruk nie.”
Chanté Warnich, Nel se biologiese dogter, het haar pa as ’n “sagte” mens beskryf.
“Hy het altyd voluit gelewe, altyd ander se belange eerste gestel en nooit aan homself gedink nie.
“My pa se doel op hierdie aarde is volbring, hy was ons anker en steunpilaar in alle opsigte, en ons was nooit alleen nie.”
Volgens Warnich is Nel te vroeg van die familie “weggevat,” maar die lewenslesse wat hulle by hom geleer het, sal hulle altyd bybly.
Nel laat sy vrou, ma, broer, suster, drie kinders (een biologiese dogter, en twee stiefdogters), sy kleinkinders, en twee skoonseuns agter.
Nel is gister by ’n verassingsdiens by die NG kerk Worcester-Brandwag deur vriende en familie gegroet.




