Vanjaar se Polar Bear Splash ten bate van die Pionierskool in Worcester was weer eens ’n reusesukses.
Altesaam 29 “ysbere” het aan die Pioneer Polar Bear Splash 2024 deelgeneem – nie net van Worcester nie, maar ook van Gordonsbaai, Wellington en Kaapstad.
Dit is baie mense wat kans gesien het om in water van 11,7 °C te kom swem – boonop ook met sneeubedekte berge op die horison wat hulle nie kon afskrik nie.
Die individu wat die meeste lengtes geswem het, was Greta Allen met 146 lengtes in 80 minute.
Dit was ook besonders dat drie oud-leerders kom swem het: Marius Coetzee (matriek in 2004), Cleo Cecil (matriek in 2023) en Tracy Jannasch (matriek in 1988).
Dit was ’n gesellige dag met dapper swemmers, geesdriftige ondersteuners, lekker musiek, kosstalletjies en ’n opwindende spinwiel wat R50 per spin gekos het en baie lekker pryse kon gewen word. Hieronder was van verblyf by Goudini Spa tot geskenkbewyse vir salonne.
Dit was ’n heerlike en uiters suksesvolle dag.
Die organiseerders bedank alle borge, maatskappye, individue en deelnemers vir hul bydraes wat gelei het tot ’n wonderlike dag – veral die hoofborg, De Jagers.




