Dis amper weer tyd vir die Pioneer Polar Bear Splash.
Vrydag 19 en Saterdag 20 Julie bied Pionierskool vir Siggestremdes vir die tweede keer die Pioneer Polar Bear Splash aan. Vrydag is gerig op hoërskoolspanne en Saterdag op individuele deelnemers en aflosspanne van alle ouderdomme. Die geleentheid vind vanjaar weer by Seminarie-koshuis in Tulbaghstraat plaas.
Dis nie slegs die swemspanne wat vir die Vrydag genooi word nie, maar Pionierskool daag al die skole se netbal, rugby-, hokkie- en ander sportspanne uit om mekaar uit te daag vir ’n yskoue swemuitdaging. Buiten die skep van vriendelike kompetisie en kameraderie onder die leerders is dit ’n goeie geleentheid om empatie onder die leerders te kweek terwyl hulle bydra tot ’n goeie saak.
Buiten die swemdeelname is Polar Bear-plakkers te koop teen R10 per plakker as ’n simbool van solidariteit met en ondersteuning van siggestremde leerders.
’n Skool sou ook hierdie geldinsameling kon ondersteun deur dit deel van ’n Mandela-dag-inisiatief op 18 Julie te maak. Ter viering van Mandela-dag sal die afstand van Robbeneiland na Bloubergstrand aangepak word – 7,5 km, oftewel 300 lengtes. Pionierskool wil Worcester se jeug aanmoedig om in spanne saam 300 lengtes te swem, met borgskappe per meter om hulle aan te moedig.
Geld word ook ingesamel met civvies-dae, by ouers wat die finansiële vermoë het om bydraes te maak, asook met borgskappe uit die gemeenskap. Borge word aangemoedig deurdat donasies aan Pionierskool vir Artikel 18A-belastingkorting kwalifiseer.
Die Pioneer Polar Bear Splash is nie net ’n opwindende uitdaging nie, maar ook ’n geleentheid om jou staal vir ’n groter doel te toets.
. Kontak die Pionierskool by 023 342 2313 of e-pos die skoolhoof by marketing@pioneerschool.org.za vir meer inligting oor hoe om betrokke te raak.




