MONTAGU – Die Swanns-Uitdaagbeker-rugbydag word Saterdag (21 September) vir die tweede keer op die King Edward- sportterrein in Montagu gehou.
Die spanne wat vanjaar om die silwerware en vet pryse gaan meeding, is Montagu-klub, die huidige houer van dié trofee, en Rangers Robertson.
Die Swanns-beker, wat aan die wenspan oorhandig sal word, is ’n wisseltrofee wat gepaardgaan met prysgeld van R10 000, maar die verloorspan word glad nie met leë hande huis toe gestuur nie. Hy ontvang ’n geldprys van R3 000.
Verskeie ander pryse kan ook opgeraap word.
Die Speler van die Wedstryd ontvang ook ’n trofee en prysgeld van R1 000.
Pryse vir die toeskouers is ook op die spel. Op die besgeklede toeskouer wag ’n geldprys van R500, die tweede beste R300 en die derde plek kry R200.
Die dag skop af met skolerugbyspanne wat om 09:00 begin speel, gevolg deur Montagu en Rangers se B-spanne.
Die o.21-spanne van die Boland-rugbyunie en die Suid-Westelike Distrikte (SWD) gaan mekaar om 13:00 pak.
Daarna gaan die “Ou Kroks” vir die jongspan wys waar Dawid die wortels gegrawe het.
Die hoofwedstryd tussen Montagu A en Rangers A volg hierna wanneer dié twee om die Swanns-uitdaagbeker met sy aanloklike prysgeld sake gaan uitspook.
Kaartjies vir die rugbydag is reeds van Maandag 16 September by CBR Liquors in Montagu en Pick-n-Pay in Robertson beskikbaar. Busvervoer is van Robertson en uit Ashbury (Montagu) beskikbaar.
Mense moet net hul toegangskaartjies vir die wedstryd toon vir ’n sitplek op die bus. Daar is geen reiskoste nie.
“Ons beplan ’n lekker vol dag se rugby. Ek verseker u dit is iets om na uit te sien. Kom ons maak dit ’n lekker rugbydag.
“Die twee spanne het nou wel nie vir die Top-12 gekwalifiseer nie, maar kom ons sluit die rugbyseisoen op ’n hoë noot af.
“Trek jou mooi aan – miskien is daai R500 prysgeld joune,” sê Juan Swanepoel, ’n bekende plaaslike sakeman en die hooforganiseerder van die rugbydag.




