Die 2023-matriekslaagsyfer van Esselenpark Senior Sekondêr, Worcester Senior Sekondêr en Breërivier Senior Sekondêr in Worcester kan toegeskryf word aan verskeie uitdagings, waaronder gedrag- en dissipline-kwessies.
So sê Bronagh Hammond, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement vandeesweek aan Standard & Breederivier Gazette.
Esselenpark Senior Sekondêr het ’n matriek-slaagpersentasie van 44,7% behaal vergeleke met die vorige jaar se 57,7%, terwyl Worcester Senior Sekondêr ’n matriek-slaagpersentasie van 46,1% behaal het vergeleke met die vorige jaar se 40,5%.
Breërivier Senior Sekondêr het op sy beurt ’n matriek-slaagpersentasie van 54,3% behaal vergeleke met die vorige jaar se 62,0%.
Hammond sê: “Die distrik het ’n uitdaging geïdentifiseer wat verband hou met die grondliggende kennis in die VOO-fase (Verdere Onderwys en Opleidingfase) vir dié matrieks.”
Sy sê om sommige van hierdie uitdagings die hoof te bied, is talle intervensies, waaronder herfs-, winter- en lenteskoolprogramme, aan die skole verskaf.
“Spesiale tutorsessies by hierdie skole is vir geteikende vakke gereël. “Ongelukkig is die sessies by bogenoemde skole swak bygewoon.”
Sy sê daar was ook verskeie uitdagings wat onderrig en leer negatief beïnvloed het, insluitend gedrag- en dissipline-kwessies.
Volgens Hammond is alle belanghebbendes op distriksvlak tans besig met die deeglike ontleding van die 2023- Nasionale Seniorsertifikaat-uitslae om die volle omvang van die uitdaging wat voorlê, te verstaan.
“Sodra ons die verwante data versamel het, sal ons omvattende ondersteuningsplanne formuleer om die geïdentifiseerde uitdagings op elke moontlike vlak aan te pak.
“Ons ondersteuningsplanne sal aangepas word om die pertinente kwessies in elk van ons geïdentifiseerde onderpresterende skole aan te pak – veral die bogenoemde instellings.”
Volgens Hammond doen die departement ’n beroep op ouers om ook ’n rol te vervul deur te verseker dat hul kinders elke dag skool bywoon en stiptelik en voorbereid vir hul lesse moet wees.
“Hulle moet ’n gesonde lewe bevorder deur te verseker dat hul kinders ’n gesonde balans tussen huiswerk en buitemuurse aktiwiteite handhaaf en sport- en kulturele aktiwiteite aanmoedig bo ander, anti-sosiale, aktiwiteite.”





