Tornados het skoonskip gemaak in sy wedstryd teen Dorpsig Barbarians.


Nog ’n aksiebelaaide sagtebal-naweek het die afgelope naweek plaasgevind, meet Robertson se spanne goed op dreef.

MU Knights t. Indians

Die span van Moreson (MU Knights) het ’n goeie begin in die kompetisie gemaak, maar moes in sy wedstryd teen Indians die knie buig. Die span van MU Knights het die loot gewen, eerste gekolf en is almal vir 64 lopies uitgeboul. Raldo (21) en Cassidy (13) was die beste met die kolf. Die beste boulers vir Indians was Danny Smith (3/12) en Ismael Jones (2/8). Indians het op sy beurt ’n goeie begin gehad, met Johannes Conradie (21) en Danny Smith wat ’n goeie grondslag gelê het. Indians het die stryd met vyf paaltjies gewen.

Superstars t. Royals

In die tweede wedstryd het Superstars en Royals kragte gemeet, met Royals wat die loot gewen en eerste gekolf het. Royals se kolwers het gesukkel om aan die gang te kom en is vir slegs 47 lopies uitgeboul. Chad Januarie (13) en Juwayne Lottering (11) was al kolwers wat weerstand kon bied. Denvor Danster (4/11) en Brain Samuels (2/7) was Superstars se beste boulers.

Superstars, wat tans die tweede plek op die punteleer beklee, het ’n oog op ’n bonuspunt gehad om die eerste plek in te neem, met Curt-lee Stevens (21) en Elrhyno Jagers (16) wat die langsteel ingelê het voordat Superstars sy wentotaal van 49/2 bereik het. Dié span mis egter ’n bonuspunt met een lopie en lê nou gelyk saam met Die Stoep boaan die punteleer met nege punte ná vyf ligawedstryde.

Dorpsig Barbarians t. Tornados

Tornados het die loot gewen en eerste gekolf. ’n Gunstige wind het gewaai en die kolwers het dit tot hul voordeel gebruik. Randall Fielies (35) en Angelo Jones was Tornados se beste kolwers en die span het 177/9 in sy toegelate 20 boulbeurte behaal. Henrico Meyer (3/38) en Cezil Mentza (1/7) was Dorpsig se beste boulers. Dorpsig Barbarians het egter op sy beurt die wind van voor gekry en kon net nie aan die gang kom nie, met slegs die pa en seun (12 jr), Cezil Mentza (10*) en Geoff Jansen (9), wat met die kolf probeer het. Theo Eksteen (2/5) en Fabrizio Taylor (1/4) was Tornados se beste boulers. Tornados het met 94 lopies gewen.

24 Maart se bepalings:

1. Tornados t. Royals: 09:00

2. New Orleans t. Pen United: 12:00

3. MU Knights t. Superstars: 15:00

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article