Die afgelope maand was sosiale media gevul met die gradueringsplasings van plaaslike jongmense waar hul mylpale, drome wat waar word en die positiewe voorbeeld wat hulle stel, gevolg kan word.
Stories soos dié van die twee jongmense Kayla Jeneke en Mario Marinus kan ander inspireer.
Kayla (25) woon op die plaas Alfalfa by Skerpenheuwel. Net soos enige ander student het Kayla haar uitdagings op universiteit gehad.
Sy was onbekend met die Kaap, maar sy sê sy het geweet “dat die hand van die Here op haar lewe is”.
Dit het sy van dag een ervaar toe sy deur bekommernisse oor verblyf gepla is. “Die lewe in die Kaap was werklik moeilik,” beklemtoon Kayla. Vir dié meisie van die plaas was die aanpassing nie net vir haar moeilik nie, maar ook vir haar ouers. Haar ma, Maria Somseb, moes haar telkemale met die hulp van haar werkgewer, Koreen Read, oorreed om sterk te wees en deur te druk wanneer die lewe in die Kaap haar wou onderkry.
“Ek het geweet waarheen ek wou gaan, maar daar was klein hindernisse wat my weerhou het van dit wat ek wou bereik.” Sy wou selfs haar studies opgee om op die plaas te kom werk nadat sy ’n jaar moes herhaal, maar danksy haar ouers en die boek van Job het sy staande gebly. Kayla vertel sy weet tot vandag toe nie hoe die beursfonds haar weer gefinansier het nadat sy haar jaar moes oordoen nie. Dit was donker tye toe sy moes dink aan die finansiële skade wat haar ouers sou ly indien hulle vir haar studies moes betaal.
Vir ’n student is die bestuur van geld maar altyd ’n probleem, veral as geld nie in oorvloed is nie. Danksy haar ouers en hul werkgewers kon Kayla na haarself kyk. Haar pa, Moos – soos almal hom ken – moes soms geld leen om seker te maak dat Kayla na haarself kan kyk en dis iets wat hy glad nie berou nie. “Die gevoel om daardie sukses te behaal, is onbeskryflik, dis iets wat ek al die jare wou hê. My ouers was daar om die pad saam met my te stap. Ek kan nie eens sê hoe bly ek is nie.” Vir Kayla is uithouvermoë en selfdissipline van kardinale belang. Om te weet hoe om jou lewe te balanseer, is die raad wat sy graag by elke plaaskind wat gereed is om die universiteitspad te stap, wil tuisbring.
Net soos Kayla het ’n jong man van Worcester ook die afgelope vier jaar hierdie pad gestap. Dit is Mario Marinus, ’n 24-jarige man wat sy hele lewe lank in die hartjie van Roodewal gewoon het. Volgens Mario gaan dit oor die algemeen swaar wanneer jy in hierdie gebied grootword, maar dis tye wat hy vir niks in die wêreld sal verruil nie. Mario se ma, Lucinda, maak die afgelope 15 jaar huise vir ’n lewe skoon en sy pa, Arnold, is werkloos weens ’n besering wat hy jare gelede opgedoen het.
“As ek dink aan die afgelope vier jaar, maak dit nie sin dat ek op die ou einde graad gevang het nie. Ek het grootgeword met die volgende woorde: ‘Die Here werk verkeerdom regom’.”
Mario sê as kind het hy dit nooit verstaan nie, maar sedert hy sy hart vir die Here gegee het en Hom leer ken het, verstaan hy nou.
“So vreemd soos wat dit vir sommige mense klink, behoort ons lewens nie aan onsself nie. Alles van die aarde en op die aarde behoort aan God, my graduering behoort aan God.” Volgens Mario skuld hy sy ouers baie.
“Ek en my suster kon net kyk en begeer wat materialistiese goed betref, maar wat liefde betref, het ons in oorvloed. Dis alles te danke aan my ouma, moeder en vader.”





