Marlon Phillips, ’n boorling van Roodewal, is onlangs as ’n direkteur van een van Worcester se bekendste regsfirmas, Muller Terblanche & Beyers, aangewys.
Phillips se paadjie na sukses was egter nie ’n reguit of maklike een nie. Toe hy jonger was, vertel hy, het hy die verkeerde vriende gehad. Op ’n dag het hy besluit om sommer enige werk te kry net om besig en uit die strate te bly.
Hy het by die Suid-Afrikaanse Polisiediens aangesluit en sy liefde vir die reg het tydens sy loopbaan as ’n polisieman begin posvat.
Hy is op 6 Maart 2020 uiteindelik as prokureur ingesweer en werk sedertdien by Muller Terblanche & Beyers, waar hy vroeër vandeesmaand tot die pos van direkteur bevorder is.
Hy glo sy werkswyse het grotendeels tot die bevordering bygedra. “Ek het net my kop laat sak en hard gewerk en deure het vir my begin oopgaan,” vertel hy van agter sy lessenaar.
In sy reaksie op die bevordering sê hy: “Die gevoel toe ek die nuus ontvang, was onbeskryflik. Dit het ’n knop in my keel gelaat. Weer eens is dit ’n bewys dat harde werk uiteindelik lonend is.
Sy aansporing kom uit dieselfde gemeenskap waarin hy grootgeword het. “My inspirasie bly altyd dit wat ek in my gemeenskap sien, sowel as my familie en vriende, wat my verder motiveer in alles wat ek doen.”
Nou hoop dié 37-jarige sy verhaal kan iemand anders inspireer om hul lewe ten goede te verander.
“Dit is so maklik vir kinders om van die regte paadjie af te dwaal. Daar is ook nie altyd ’n goeie voorbeeld in hul lewe om na op te kyk nie. Ek hoop my paadjie na sukses kan vir hulle ’n lig wees. Dis nooit te laat om jou lewe om te draai nie.”
As ’n manier om in sy gemeenskap terug te ploeg, het hy onlangs die sokkerklub Esselen United op die been gebring.
“Dit staan vir eers bietjie stil. Die hooi op die vurk is tydelik te veel, maar die hoop is om volgende jaar weer volstoom met die klub aan te gaan.
“Mense wat betrokke wil raak, kan my by 067 127 4523 bel.”
Vir dié wat hulself op ’n donker plek bevind, sê Phillips: “Hou net aan om hard te werk. Moenie opgee nie. Die pad na sukses is nie ’n kort pad nie.”


