Die HTS Drostdy in Worcester is aangewys as die beste tegniese skool in die provinsie en het die hoogste persentasietoename in die aantal vakonderskeidings tussen 2022 en 2024 behaal.
Die matrikulant Stefan Burden is aangewys as die vyfde beste kandidaat in die provinsie en die skool het ook die vierde hoogste toename in die persentasie kandidate wat vir Baccalaureus-graadstudies kwalifiseer.
Die skoolhoof, Louis Steijn, skryf die sukses toe aan ervare onderwysers en gemotiveerde matrikulante. “Ons glo sukses hang af van wat in die klaskamer gebeur. Ons moedig al die leerders aan om vir hulself akademiese doelwitte te stel en herinner hulle deur die loop van die jaar daaraan,” het hy gesê. Sukses is egter ’n proses en nie slegs een jaar se werk nie. Personeel-ontwikkeling is ’n belangrike aspek en leerders moet reeds in gr. 8 gemotiveer word. “Ons is dankbaar vir elke kind wat geslaag het.”





