Talle Worcesteriete moes die afgelope tyd derduisende rande bestee om huishoudelike toestelle wat weens beurtkrag tot niet gegaan het, te vervang.
Beurtkrag het ’n enorme invloed op sakeondernemings en huishoudings oral in Suid-Afrika, maar die vervanging van toestelle en huishoudelike toerusting is ook ’n kwessie wat talle in die gemeenskap raak.
Merryl Jones (55) woon in die Riverview-woonstelle en het die afgelope maand bykans R20 000 se skade gely weens beurtkrag en die impak ddarvan op toestelle.
Sy het op 2 Februarie skuins na 20:00 probeer om haar televisie aan te skakel nadat die krag die derde keer daardie dag vir twee ure af was. Sy het alles probeer, maar haar TV wou net nie aanskakel nie.
“Ek het gedink iets is fout by my kragboks en het gaan ondersoek instel. Niks was fout nie. Ek het die yskas oopgemaak en gesien die lig aan die binnekant is af; so ook die vrieskas. Ek het geskrik en dadelik my seun gevra om te kom kyk. Hy het gesê ek het alles verloor,” vertel Jones aan Standard.
Sy het die volgende dag ’n elektrisiën uitgekry, wat haar seun se mening bekragtig het.
“Ek het gehuil. Ek het nie versekering nie en het pas ons kos vir die volgende twee maande gekoop. Die TV-skerm was R3 500, die yskas was R7 500 en die vrieskas was ook R6 000. Ek het nie daai soort geld nie. Hoe kan Eskom dit aan ons mense doen? Hoe moet ons enigsins in hierdie land aanhou oorleef?”
Pierre Mostert (41) en sy vrou, Lené, woon saam met hul drie kinders in Rouxpark in Worcester. Hulle het twee dae voor Kersfees verlede jaar bykans al hul toestelle weens beurtkrag verloor.
“Dit was beurtkrag en ons was op fase ses. Dit was redelik warm en ons en die kinders het gaan swem. Toe die krag aankom, is ons met ’n spoed terug in die huis en waaiers aangeskakel. Ons wou nog iets op die televisie kyk, maar dit is toe dat ons besef het alles is stukkend.”
Die Mostert-gesin het nes Jones dadelik na die kragboks gegaan en ook agtergekom dat iets anders fout moet wees.
By nadere ondersoek het hulle bepaal dat bykans R65 000 se toestelle weens die beurtkrag verwoes is.
“Twee televisieskerms, ons yskaste, twee waaiers, ons swembadpomp en ’n rekenaar is bloot net afgeskryf – alles weens beurtkrag.
“Dit is reeds erg genoeg om ure sonder krag te sit, maar dan verloor jy alles en niemand anders wil verantwoordelikheid neem nie,” voeg Mostert by.
Hy het na sy versekering uitgereik, maar is slegs gedeeltelik vir die skade vergoed. “Blykbaar keur versekeringsmaatskappye nie alle eise goed nie, of hulle betaal net gedeeltelik. Aan die een kant kan ’n mens dit verstaan, maar aan die ander kant maak dit ’n mens briesend – wie staan pa vir Eskom se gemors?”
Netwerk24 het onlangs berig versekeraars soos Santam gaan voortaan meer noukeurig met eise te werk wat beurtkrag aanbetref, en sou daar ’n dag kom wat ’n totale ineenstorting van die kragnetwerk ontstaan, sal hulle nie enige skade of verliese kan dek nie. Hulle is ook nie die enigste maatskappy wat hierdie protokol begin toepas nie.
Standard het na Eskom se kommunikasie-afdeling uitgereik, maar nog geen terugvoer ontvang nie.
Op hul sosialemediablaaie word dit gestel dat mense hul toestelle moet ontkoppel voordat beurtkrag inskop en dit eers weer inprop nadat die krag weer aangekom het. Dit sal skade verhoed of minimaliseer, aangesien ’n influks van krag deur die netwerk kan stroom as die aanskakeling weer gedoen word, en dit kan skade aan huishoudelike toestelle aanrig.
“ ’n Mens is nie altyd tuis om dit te doen nie, en dit is nie hoe ons as mense veronderstel is om te moet lewe nie. Ek weet nie hoe om te maak nie en probeer maar weer spaar om alles te vervang,” voeg Jones by.




