’n Inwoner het onlangs sy misnoeë teenoor die munisipaliteit uitgespreek.

“Ek het al vier weke gelede die munisipaliteit laat weet dat een van die verkeersligte se buzzers stukkend is. Dis die een op die hoek van Hoogstraat en Adderleystraat. Ek stap werk toe en een oggend het die ding letterlik op die grond gelê. Ek het hulle gesê hulle kan dit by my kom kry, maar hulle het dit nooit kom haal nie,” verduidelik die man.

Hy het weer ná sy eerste e-pos met die munisipaliteit kontak gemaak.

“Toe antwoord die burgemeester en vra die munisipale bestuurder moet reageer, maar dit het nooit gebeur nie. Ek is die pa van ’n siggestremde en dit pla my dat niemand reageer het nie.”

Volgens die Breedevallei-munisipaliteit is alle klagtes wat die bogenoemde betref, afgehan­del.

“Alle uitstaande klagtes wat betref buzzers en verkeersligte is afgehandel. As die publiek dalk weet van enige uitstaande kwessies moet dit so gou as moontlik by die inbelsentrum aangemeld word sodat hulle ’n verwysingsnommer kan ontvang vir verdere navrae en om op te volg,” het John Bulani, ’n woordvoerder van die BVM, gesê.

Hy noem ook dat die munisipaliteit tans besig is met ’n instandhoudingsplan.

“Die munisipaliteit is tans besig met ’n instandhouding­s­plan in ooreenstemming met die nodige begroting om alle verkeersligte op te knap. Die afgelope twee jaar is omtrent 20 verkeersligte oorgedoen.”

Hy voer ook aan dat die munisipaliteit weekliks aan verkeersligte werk.

“Ons werk op ’n weeklikse basis aan verskillende verkeersligte in die dorp. Addisioneel word gereageer op klagtes aangemeld met verwy­singsnommers wat voltooi word in ’n kronologiese volgorde, met inagneming van die beskikbare hulpbronne, aangesien hierdie situasie pal gedurende abnormale toestande verander en prioritisering moet geskied.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article