Die Matie- mediese student Sarah Camp het in tien dae 1 500 km per fiets afgelê om geld vir medestudente in te samel.Foto: Verskaf

Credit: SYSTEM

Terwyl vreugdevure die afgelope twee weke veral in Suid-Afrika hoog gebrand het oor die Springbokke se oorwinning in die Rugby-wêreldbekertoernooi, het ’n beskeie mediese student aan die Universiteit Stellenbosch nog ’n prysenswaardige prestasie behaal – deur 1 500 km per fiets af te lê.

Sarah Camp (25), ’n finalejaar- mediese student van die US se Tygerberg-kampus, het Saterdag (4 November) in Hillcrest net buite Durban in KwaZulu-Natal (KZN) aangekom nadat sy 10 dae lank van Worcester deur Suid-Afrika fietsgery het.

Dié jong dokter in wording is geïnspireer deur prof. Thuli Madonsela se inisiatiewe om studente se universiteitskuld te help verlig en het die veeleisende reis voltooi om geld in te samel vir #Action4Inclusion, ’n studenteskuldverligtingsinisiatief deur die Sentrum vir Sosiale Geregtigheid (SSG) aan die US.

Om haar prestasie in perspektief te stel: Sarah het teen ’n gemiddelde 150 km per dag vir tien dae aaneen elke dag verder as deelnemers aan die Kaapstad-fietstoer gery – oftewel ’n Suid-Afrikaanse weergawe van die Tour de France kafgedraf. “Geen wonder my sitvlak voel nogal voos nie,” het sy met haar tuiskoms by haar ouerhuis in Hillcrest geskerts.

Sarah het al voorheen haar uithouvermoë op die proef gestel en haar staal gewys. Sy het meer as 230 km te voet in die Drakensberg afgelê en die lengte van die Teemsrivier (330 km) in Engeland in ’n kano geroei. Vroeër vanjaar het sy haar eerste Comrades-marathon aangedurf – een van die mees uitmergelende ultra-marathons ter wêreld.

Sarah se epiese fietstog het douvoordag op 26 Oktober by die US se Ukwanda- Medieseskool-kampus in Worcester begin. Sy het haar ouerhuis in KZN Saterdag 4 November kort ná middagete bereik. Sy het die breedte van die land oor tien dae deurkruis – van die Wes-Kaapse wynlande, deur die dorre Karoo-hartland, oor die golwende heuwels en ruie berge van die Oos-Kaap en uiteindelik af na die lowergroen ooskus van KZN.

Sy het meer as R20 000 vir die verligting van studenteskuld op haar geldinsamelingsplatform op GivenGain ingesamel.

“Ons gradeplegtigheid is net om die draai, maar vir baie van my klasmaats is daar min rede vir vrolikheid, want hulle sal nog lank moet spook om hul studieskuld te betaal,” het Sarah verduidelik.

Sarah is passievol om studente, wat weens uitstaande studentegeld nie vir die volgende akademiese jaar kan registreer nie sowel as studente wat hul studies voltooi, maar weens studenteskuld nie kan graad vang nie, te ondersteun .

“Toegang tot onderwys behoort nie van welvaart afhanklik te wees nie,” het Sarah gesê. “Ek wou op my beskeie manier my deel doen om talentvolle jong professionele mense te help om die loopbaan-hupstoot te kry wat hulle verdien.”

Sarah moes talle struikelblokke van haar eie oorkom voordat haar avontuur kon begin. Sy moes eerstens haar professore oortuig om haar en die vriendin wat haar per motor begelei het, Bianca Tout (ook ’n mediese student), af te gee wat hul hospitaaldiens betref. Sy moes seker maak al haar akademiese werk is op datum, sy moes ’n fiets leen en reëlings tref vir borgskappe vir brandstof en verblyf met die roete langs, en laastens die belangrikste hindernis – haar geliefdes oortuig dat sy al die nodige veiligheidsmaatreëls tydens haar epiese reis sou tref (insluitend ’n veiligheidsbaadjie en ’n helder flikkerende lig om sigbaarheid op die pad te verseker).

“Ek hoop die reis het gehelp om bewusmaking te skep en geld vir studente in te samel sodat meer verdienstelike jong Suid-Afrikaners toegang tot die onderwys kan kry soos wat hulle verdien. Almal van ons kan op ons unieke manier ’n verskil maak,” het Sarah benadruk en almal wat ’n bydrae tot haar poging gelewer het, bedank.

Madonsela, direkteur van die SSG, was een van die eerste mense wat Sarah gelukgewens het. “Sarah se rit hou die vlam van hoop aan die brand tot tyd en wyl ons Pelgrimstog van Hoop van 20 Januarie tot 2 Februarie volgende jaar hervat word. Sarah se gebaar is gegrond in ubuntu en diepe menslikheid,” het sy bygevoeg.

Die US se rektor en visekanselier, prof. Wim de Villiers, het Sarah ook gelukgewens en gesê haar vasbeslotenheid versinnebeeld die gees van die US-gemeenskap.

Prof. Elmi Muller, dekaan van die fakulteit geneeskunde en gesondheidswetenskappe, het gesê die Tygerberg- en US-gemeenskap is geweldig trots op Sarah. “Haar prestasie is werklik merkwaardig – nie net in terme van die indrukwekkende afstand wat sy afgelê het nie, maar ook die ongelooflike toewyding wat dit geverg het om 150 km per dag vir tien dae aaneenlopend te ry. Wat haar prestasie nog meer inspirerend maak, is die feit dat sy die merkwaardige reis onderneem het om geld vir haar medestudente in te samel. Sarah is ’n fantastiese voorbeeld van vasberadenheid en deernis en sy dien as ’n inspirasie vir ons almal.”. Mense kan steeds bydraes tot Sarah se geldinsamelingspoging lewer deur intussen ’n skenking op haar aanlyn GivenGain-profiel te doen.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article