Calla Verster (21) se dood word deur sy geliefdes betreur, nadat hy verlede week in ’n botsing in Ceres oorlede is.


’n 21-Jarige student van Ceres, wat by die Elsenburg-landboukollege in Stellenbosch gestudeer het, is in ’n motorongeluk naby sy ouerhuis oorlede.

Calla Verster het volgens berigte op Netwerk24 Woensdag 7 September om­streeks 01:00 sy vriend te hulp gesnel nadat die vriend se motor sonder brand­stof gaan staan het.

Dit blyk of Verster op pad terug na sy ouerhuis beheer oor die voertuig verloor het en teen bome vasgery het. Hy het skaars ’n uur ná die ongeluk aan sy beserings beswyk.

Verster was ook ’n rugbyspeler vir die Ceres-rugbyklub en was geliefd onder sy gesin en vriende. Sy rugby­span het ook onlangs by een van sy wedstryde hulde aan hom gebring en hom geëer met ’n oomblik van stilte.

Hy het ook vir ’n paar maande as deel van ’n internskap by die De Keur-landbougroep naby Ceres gewerk.

“Liewe Calla, ons harte is baie seer! Dit was vir ons ’n voorreg dat jy die laaste agt maande saam met ons in die Bokkeveld geboer het. Jy was ’n jongman met ambisie, ’n opgewonden­heid oor die boerdery en jou toekoms en ’n lus vir die lewe. Dit was lekker om saam met jou te kon boer, te kon leer en te kon lag. Jy was ’n besonderse jongman en ons gaan jou baie mis,” het hierdie landbougroep of Facebook geskryf.

Talle mense het hulself tot sosiale media gewend om hulde aan hierdie jongman te bring. “Liefste Carel-kind, ons harte is stukkend – dit is net hopeloos te vroeg om vir jou te moet bye sê. Ons gaan jou so baie mis, Calla. Jou teenwoordigheid in jul gesin was groot en sag en vriendelik en mooi! Jy was ’n besonderse jong man. Ons vriendekring is nie meer heel nie, want die Versterre kort jou, maar ons sal vir hulle lief wees en hulle oppas,” skryf Marina Potgieter, ’n familievriend op Facebook.

Verster word is Donderdag 15 September vanuit die Ceres Vallei-kerk ter ruste gelê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article