Al het die Langeberg-streek se rugbyspanne al ’n paar sterk vertonings in die Grootuitdaagrugby-kompetisie gelewer, is dit gans te vroeg in die seisoen vir die gunstelinge om op hul louere te rus.
Die vroeë voorlopers, Rangers Robertson en Montagu, behoort nou die druk te begin voel namate ander klubs meer vasberade raak om hulle van hul troontjies te lig.
Villagers Worcester tree die naweek op Bolandpark teen Montagu Villagers aan. Ná ’n nederlaag verlede Saterdag in Swellendam verwag ondersteuners Villa sal hard probeer om hulle weer rede tot blydskap te gee.
Robertson Town draf in die Van Zylstraatstadion in Robertson teen Ashton United uit, terwyl Rangers hoop om sy bynaam, “Never Die”, gestand te doen wanneer hy teen ’n sterk Montagu kragte meet.
Proteas, of Prouks, speel in De Doorns teen Touwpark, sy bure uit Touwsrivier, terwyl McGregor besoek van Swellendam ontvang.
Young Hamiltons geniet ’n loslootjie.
In die Streekuitdaag-kompetisie speel Mountain Stars op sy tuisveld teen De Doorns United.
Orchard ontvang besoek van Worcester Perseverance, terwyl Villagers Breërivier tuisveldvoordeel teen Overhex geniet.
Evergreens van Nuy speel tuis teen Klipdrift, terwyl Rawsonville United ’n loslootjie geniet.
In die Gemeenskapskild-afdeling speel Lemoenpoort tuis teen Proteas van Worcester.
Laingsburg ontvang besoek van Thistles van Aan de Doorns en Sandhills speel tuis teen Blue Birds.
In Worcester is dit derby-tyd wanneer Primroses op Esselenpark teen Alberts en Young Stars teen Goudini te staan kom.
Green Leaves geniet ook ’n welkome blaaskans.



