Stryd van reuse wanneer Robertson Town en Worcester Villagers mekaar pak

Rugby
Rugby

Met die bepalings van die Langeberg-afdeling se Grootuitdaag-deelnemers reeds bepaal, lei alle paaie Saterdag (30 Augustus) na Bolandpark in Worcester wanneer die einste twee spanne wat deurgedring het – Robertson Town en Worcester Villagers, of Villa, soos hulle ook bekendstaan – mekaar die stryd gaan aansê.

Hierdie twee spanne – albei met ‘n ryke geskiedenis van deelname aan groot kompetisies – was ook verlede seisoen die wenners en naaswenners in hul afdeling en het boonop albei in die 2024-seisoen in die prestige- Top-12-kompetisie na die eind ronde deurgedring, waar Robertson met hul naelskraapse sege van 31-29 oor Villa net-net as die wenners gekroon is.

Met al die ander deelnemers in die afdeling, wat reeds hul wedstryd-verpligtinge vir die seisoen voltooi het, kan verwag word dat honderde rugby-geesdriftiges Saterdag na Bolandpark sal opruk.

Boonop sal met kritiese oë gekyk word na die optrede van die aangewese skeidsregters nadat die afgelope ruk wyd en syd oor skeidsregters en veral wedstrydknoeiery in die media asook in sosialemediakringe berig is.

In die Breërivier-afdeling van die Streekuitdaag-kompetisie is nog enkele wedstryde oor wat afgehandel moet word voordat hul uitspeel-wedstryde ‘n aanvang kan neem.

Mountain Stars speel Sater­dag tuis teen Goudini terwyl De Doorns United, of DDU, soos hulle algemeen bekendstaan, tuisveld-voordeel teen Orchard geniet. – Alver Uys

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article