Nadat gure weersomstandighede die Boland-rugbyunie die tweede agtereenvolgende week genoop het om alle wedstryde in die onderskeie ligas onder sy vaandel uit te stel, hervat wedstryde hierdie naweek in alle erns en soos geskeduleer.
In die Langeberg-afdeling van die Grootuitdaagbeker-kompetisie is sommer ’n hele paar wedstryde op die spyskaart wat rugby-liefhebbers se aptyt behoorlik sal versadig.
Die naasvoorlopers, Young Hamiltons, of Hammies, soos hy onder sy ondersteunerskorps bekendstaan, reis Saterdag na Ashton waar hy teen die tuisspan Ashton United, of Unies, soos hy algemeen bekend is, kragte meet. Hoewel Hammies as groot gunsteling op die veld sal draf, kan Unies op sy tuisveld gewis nie ligtelik opgeneem word nie. Unies kan nooit sonder handskoene op sy tuisveld gepak word nie.
Montagu Klub, of Hou by die Blou, soos hy in die volksmond bekendstaan, kom op die King Edwardstadion in Montagu teen die onvoorspelbare Blue Birds van Bonnievale te staan.
Die ander Bonnievalspan, Bonnievale United, gaan Saterdag tuisveld-voordeel op die “Plate” geniet in sy kragmeting teen Montagu Villagers, of Ses Duim – dié span se bekende bynaam.
Swellendam, of Swellies, soos hulle op hul beurt genoem word, speel op sy tuisveld in die Powellstadion in Swellendam teen Rangers Robertson, terwyl Rawsonville, of Rawsies, soos die swart truie bekendstaan, tuisveld-voordeel teen die span uit De Doorns, Proteas, sal geniet.
Dit is egter die stryd tussen Robertson Town en Worcester Villagers, of Villa, soos hul hul lojale ondersteuners die span noem, wat groot belangstelling lok – deels omdat Villa in die nek van die voorlopers blaas, maar ook omdat nagenoeg tien spelers van Town sommer nog ’n seisoen of twee gelede die rooi, blou en wit trui van Villa oor die kop getrek het.
Omdat albei spanne se visier ook vierkantig op ’n plek in die uitklopfase, oftewel die Top-12-kompetisie van die Boland-rugbyunie, gevestig is, word met alle sekerheid verwag dat dit ’n wedstryd van “geen genade gevra of gegee” gaan wees nie. Dit gee rugbygeesdriftiges dus meer as genoeg rede om Saterdag (27 Julie) in hul hordes na Bolandpark op te ruk om “die clash van die reuse” te aanskou.


