Die Alice Malan-trofee vir die kampioenwyn op die Breedekloof-Worcester-jongwynskou staan vanjaar by die Badsberg-kelder.
Die wenners is op 17 Augustus by ’n geselligheid by die Bergland-venue aangekondig. Altesaam 282 wyne van 14 kelders in die Breedekloof- en Worcester-wynstreke het vanjaar meegeding.
Die gesogte Pietman Hugo-trofee vir die beste vyf benoemde wyne is deur De Wet-kelder gewen. Badsberg was die naaswenner en Botha-kelder was derde.
’n Gehoute chardonnay het die kampioentrofee aan Badsberg-kelder besorg. Dié chardonnay het ook die trofee vir die kampioen-chardonnay ontvang. Nuy Kelder se chardonnay is die reserwekampioen-chardonnay.
Die reserwekampioen op vanjaar se jongwynskou is Slanghoek Kelder se sauvignon blanc/sémillon, wat ook die kampioen in die kategorie vir kampioen- droë wit versnitwyn was. De Wet-kelder se chardonnay/clairette blanche is die reserwekampioen- droë wit versnitwyn.
Die trofee vir die kampioen- chenin blanc is aan De Wet-kelder toegeken. Slanghoek-kelder is die reserwekampioen- chenin blanc.
Breëland-kelder is die tuiste van die kampioen- sauvignon blanc. De Wet-kelder se gehoute sauvignon blanc is die reserwekampioen.
Die kampioen-sémillon is deur Cilmor Winery gemaak en die reserwekampioen kom van die Merwida-kelder.
Botha-kelder se nouvelle is die kampioen- ander witwyn en ’n clairette blanche van De Wet-kelder is die reserwekampioen.
De Wet-kelder se clairette blanche/wit muskadel is die kampioen- natuurlike soet wit tafelwyn. Die reserwekampioen is Slanghoek-kelder se rooi muskadel/blanc de noir.
Die kampioen- rooi versnitwyn is ’n cabernet sauvignon/shiraz van Brandvlei-kelder. Botha-kelder se gehoute pinotage/shiraz/merlot/durif is die reserwekampioen.
Botha-kelder se gehoute cabernet sauvignon is die kampioen- cabernet sauvignon. Geen reserwekampioen is in dié afdeling aangewys nie.
Badsberg-kelder se pinotage is as kampioen-pinotage aangewys. Die reserwekampioen is Mountain Ridge Vineyards se pinotage.
Die trofee vir die kampioen-merlot pronk vanjaar in Aan de Doorns-kelder se proelokaal. De Wet-kelder is die reserwekampioen-merlot.
Brandvlei-kelder is die kampioen-shiraz met uniWines Vineyards as reserwekampioen.
Die kampioen- ander rooiwyn is ’n ruby cabernet van Aan de Doorns-kelder. ’n Gehoute ruby cabernet van Badsberg-kelder is die reserwekampioen.
Badsberg-kelder se hanepoot/jerepigo is as die kampioen- muskaat versterkte wyn aangewys. Aan de Doorns-kelder se rooi muskadel/rooi jerepigo is die reserwekampioen.
Badsberg-kelder se rooi jerepigo is ook die kampioen- nie-muskaat versterkte wyn. ’n Wit jerepigo van Botha-kelder is die reserwekampioen.
Die jongwynskou-kompetisie, wat die gehalte van ongebottelde, jong wyne in die vat of tenk erken, bied die bedryf ’n aanduiding van die gehalte wyn wat in ’n betrokke kelder beskikbaar is. Dit maak hierdie een van die wynbedryf se belangrikste wynkompetisies.





