Een van Standard se langsdienende straatverkopers is verlede week oorlede.

André van West se vrou, Maria van West, verduidelik dat hy verlede jaar ’n beroerte gehad het en sedertdien met hoë bloeddruk gesukkel het.

“Hy het nooit met ons daaroor gepraat nie en wou ook nooit ná sy eerste beroerte terug hospitaal toe gaan vir sy fisioterapie nie, ek het hom maar by die huis gehelp met dit.”

Verlede Dinsdag, 4 April, het Van West, ook bekend as “Smokey”, nog ’n beroerte gehad.

“Hy het die beroerte by die huis gehad en het sommer ook in ’n koma gegaan as gevolg daarvan. Hy is toe dieselfde dag in die hospitaal opgeneem en het later die dag nóg ’n beroerte gehad. Toe word hy breindood verklaar. Hy is die volgende dag oorlede,” vertel Maria.

Sy vertel haar man was nie iemand vir veel woorde nie, “maar hy het altyd in rympies gepraat en dit is hoe sy vriende hom ook geken het”.

Sy dogter, Colinecia Frieslaar, voeg by Van West was vreeslik lief vir sy drie kleinkinders.

“Die Donderdag voor hy afgesterf het, het hy hulle nog in sy waentjie skool toe gestoot,” vertel Frieslaar.

Maria beaam hierdie stelling.

“Soveel keer het hy gesê hy gaan gou ’n draai loop om bietjie by sy kleinkinders te gaan kuier.”

Beide van hulle maak melding van hoe verskriklik baie Van West van sy werk as straatverkoper vir Standard gehou het.

“Hy het gewoonlik hier by ’n Woensdag begin opgewonde raak vir Donderdag. Dit het gelyk of hy te bang is om aan die slaap te raak, want hy was bang hy verslaap die werk. Ek het hom altyd verseker dat die alarm op sy foon gestel was. En hy het altyd gevra of ek seker is. En elke week het ek gesê ja, die alarm is gestel vir 04:30. Eers dan was hy tevrede,” onthou Maria.

Vir die laaste paar jaar was hy ook ons topverkoper. Hy was baie lief vir sy werk. Altyd stiptelik, pligsgetrou en betroubaar.
Xenophone Baird

Van West het koerante by Buitenkantsraat en Greystraat se verkeersligoorgang verkoop, en hy het ook deur die verskeie buurte geloop om meer koerante te verkoop.

“Van sy vriende het ook vir hom gehelp om die koerante te verkoop, dit was vir hulle net so lekker.”

Volgens Xenophone Baird, oorsiener van Standard se straatverkopers, het Van West vir meer as twintig jaar koerante verkoop.

“Vir die laaste paar jaar was hy ook ons topverkoper. Hy was baie lief vir sy werk. Altyd stiptelik, pligsgetrou en betroubaar.”

Frieslaar meen haar pa se mooi herinneringe sal altyd voortleef.

“Hy was nooit kwaad vir mense nie, of as hy ontsteld was, het hy dit ook nooit gewys nie. Hy het groot respek vir ander mense gehad. Hy het altyd ’n glimlag op sy gesig gehad. En as mense met hom wou stry, het hy liewer weggeloop.”

Maria sê sy sukkel nog om sy dood te aanvaar, en dat dit nog seer is.

“Daar was nie eens kans om koebaai te sê nie.”

André van West sal Saterdag 15 April ter ruste gelê word.

’n Diens sal Saterdag om 09:00 by Chipros gehou word en die teraardebestelling sal om 11:00 by die begraafplaas plaasvind.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article