Hierdie boom op die perseel van die Oefenskool in Worcester is midde die reën- en windstorm, wat die afgelope week ook in die Breedevallei woed, ontwortel. Foto: Enrico Claassen


Verskeie munisipale gebiede loop steeds onder die aanhoudende stormweer deur wat sedert die begin van die week woed.

Video-opnames van hoe dit in die verskillende dorpe in die streek lyk, doen tans die ronde op sosiale media en dit blyk riviere in die meeste van die dorpe het hul walle oorstroom en damme loop oor.

Soos met vorige storms lyk dit maar droeig in die Spookiesdorp- informele nedersetting in Rawsonville.

’n Stop-en-ry-stelsel is Vrydagoggend (12 Julie) op die Michell’s-pas in die Witzenberg ingestel.

“Dit blyk ’n duik in die pad het by die spoorwegkruising op Michell’s-pas gevorm. Die kontrakteur is op die perseel. Hulle het gemeld hulle het een baan na Ceres gesluit en ’n stop-en-ry-stelsel ingestel. Hulle ontleed nog die skade. Ons doen ’n beroep op alle motoriste om versigtig te ry, alle verkeerskontroles na te kom en ’n veilige volgafstand te hou,” het die munisipaliteit op sy amptelike Facebook-blad geskryf.

’n Video van hoe ’n motor deur die duik ry, is ook op sosiale media gedeel en dit blyk asof dit ’n groot deel van die baan raak.

Aankondigings oor paaie wat gesluit is en gesluit gaan word, stroom al die hele oggend in.

Die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit het ook inwoners gewaarsku om liefs van die paaie in die distrik weg te bly, wat volgens weerkenners nog erg onder die stormweer gaan deurloop.

“Die gure weer het ’n toename in motorvoertuigongelukke veroorsaak. Ons doen ’n beroep op almal om net te ry indien nodig. As jy moet reis, hou asseblief jouself en jou geliefdes veilig,” skryf die munisipaliteit.

Die BVM het in ’n persverklaring gesê 170 mense is al in Rawsonville ontruim.

“Informele nedersettings in Rawsonville ervaar tans oorstromings. Ons het tot [vanoggend, Vrydag 12 Julie omstreeks 10:00] ongeveer 170 inwoners uit aangrensende informele nedersettings ontruim,” lui die verklaring.

Die verklaring maak ook melding van ’n voorval waar reddingswerkers Dinsdag gyselaar gehou is.

“Ons is uiters hartseer oor ’n voorval gister, waartydens ons reddingspan en ondersteuningspersoneel deur ’n sekere faksies binne die Rawsonville-gemeenskap gyselaar gehou is, wat ons vermoë beperk het om kritieke en vinnige reddingsondersteuning aan behoeftiges te verleen. Ons veroordeel hierdie optrede ten sterkste en doen ’n beroep op wedersydse ondersteuning om te verseker dat ons die lewe van al ons inwoners beskerm – veral die mees kwesbares.”

Talle bome in verskeie strate in Worcester is sedert die begin van die week deur die sterk wind ontwortel. Die N1 by De Wet is ook tans oorstroom en verkeer word herlei.

Inwoners in die Breedevallei- munisipale gebied kan gebruik maak van die volgende noodnommers:. Diensondersteuningsentrum (slegs om diensonderbrekings aan te meld): 0860 12 12 12. Noodkontaknommers:

– 023 342 2430

– 107 (van ’n landlyn) of 112 (van ’n selfoon).

Maak seker om gereeld op die onderskeie munisipale Facebook-blaaie te kyk vir opdaterings.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article