Die eerste ronde van die nuwe Goldrush-Boland-Superliga (GBSL) was die ene aksie en het opwindende krieketwedstryde van hoë oktaan opgelewer.
Sestien spanne uit die lengte en breedte van die Boland het aan die nuutgestigte kompetisie deelgeneem, wat hierdie Saterdag op Bolandpark, die hoofkwartier van Boland-krieket, uitloop op ’n dag/nag-eindstryd.
Hoewel die vroeë herfstoestande –tesame met die spanne wat hul eerste blik gehad het van die veelbesproke pienk bal, wat die eerste keer in Bolandse klubkrieket gebruik is – meegebring het dat sommige tellings soms laag was, het verskeie wedstryde met hoë punte ondersteuners heerlik vermaak.
’n Wedstryd tussen Vredenburg/Saldanha se Krewe en Wellington Wolves het selfs gelykop geëindig en moes op grond van ’n superboulbeurt beslis word. Die Krewe het dit uiteindelik op hul tuisveld gewen.
Daar was ’n paar puik individuele vertonings met Robertson se Warwick Abrahim (91) en Darryl Hendricks (88) van die Paarl-krieketklub wat die beste tellings opgebou het. Darling se Basil George (5/3) en Jevon Cloete (4/5) het verwoesting onder die Krewe se kolwers gesaai. Ander noemenswaardige vertonings was Piketberg se Getrum Brink (4/27), Curtly Claasen van Stellenbosch het 4/18, Van der Stel se Juan Burger (5/13), Francois Stowman (Hermanus, 4/25), Leighton Dennis van Caledon het 4/18 en Luwayden Siegelaar van Robertson het met 4/17 geëindig.
Twee Boland- gekontrakteerde spelers, Jevano Baron (Paarl-Oos, 3/15) en Adrian du Toit (Paarl 55), het ook hul slag gewys.
James Fortuin, uitvoerende hoof van Boland-krieket, was tevrede met die eerste ronde van die GBSL. “Dit was wonderlik om ons klubkrieketspelers te sien speel in gekleurde klere met hul name agterop hul hemde. Ons het groot botsings tussen kolf en bal gesien en hoop vir baie van dieselfde die komende naweek.
“Ons hoop dat die krieketgemeenskap na Bolandpark sal stroom om hul gunsteling klubs en spelers te ondersteun. Ons by Boland-krieket sien uit daarna om ons klubs en hul ondersteuners te ontvang.
“Weer eens wil ons graag ons opregte dank betuig aan ons vriende by Goldrush, wie se ondersteuning hierdie droom ’n werklikheid gemaak het.’’
Die wenners en naaswenners van die vier poele sal dit nou uitspook vir ’n plek in die halfeindstryd Donderdag op Bolandpark.. Volgende bepalings:
Donderdag 21 Maart, Bolandpark, Paarl – Darling vs Paarl-Oos om 15:00; Paarl vs Krewe om 18:30.
Vrydag 22 Maart, Bolandpark, Paarl – Maties vs Hermanus om 15:00; Robertson vs Van der Stel om 18:30.
Die halfeindronde en eindstryd vind op Saterdag 23 Maart op Bolandpark plaas.
Kaartjies kos R20 vir volwassenes, en gratis vir pensioentrekkers en kinders onder 12. Kaartjies kan by die hek of by ticketpro.co.za gekoop word.




