Verskeie paaie in Stofland, De Doorns, word tans opgeknap.
Die Breedevallei-munisipaliteit (BVM) se onderburgemeester, Juben von Willingh, het verlede week ’n inskrywing op sy Facebookblad geplaas waarin hy De Doorns se inwoners vra vir hul geduld en samewerking terwyl daar aan die paaie gewerk word.
“Terreinbesoek met kontrakteur vanoggend in Stofland. Kontrakteurs is aangestel deur BVM en gaan vir die volgende paar weke besig wees in strate. Ek vra dat inwoners maar geduldig moet wees oor beweging van swaar masjinerie,” lui die inskrywing wat met foto’s geplaas is.
Volgens die onderburgemeester is hierdie plan al verlede jaar in November goedgekeur.
“In daardie stadium was Derdelaan geoormerk vir opknapping omdat dit die hoofroete in Stofland is wat na die dorp gaan en ook deur taxi’s gebruik word. Die plan is toe in November deur die munisipale bestuurder goedgekeur,” verduidelik hy.
Ná die erge vloede wat deur die storm op Maandag 12 Desember veroorsaak is, sal nog paaie oor die volgende paar weke aandag geniet.
“Ná die storm is die opknapping van Agtstelaan bygevoeg, asook kleiner bykomende strate in die gebied.”
Gevra of die bogenoemde paaie geteer gaan word, sê Von Willingh dit kos miljoene rande om paaie te laat teer.
“Daar is nog geen sprake dat die spesifieke paaie in De Doorns geteer gaan word nie. Elke wyk kry mos maar sy eie begroting vir dinge wat gedoen moet word en dit kan nie in hierdie stadium aandag geniet nie. Daar is wel die herseël van paaie wat tans op die boeke is,” verduidelik hy.
Die koste van die projek beloop R200 000. Daar word ook beoog om die projek binne twee weke af te handel.
“Die aanvanklike konstruksietydperk is op twee weke geskat. Weens die stormskade wat tydens die Desember-vloede aangerig is, is die projek se tydlyn egter nadelig beïnvloed. BVM bestuur dit aktief om te verseker dat die projek so gou as prakties moontlik afgehandel word,” het ’n woordvoerder van die BVM gesê.


