Dit is hoe die muur langs die braaiarea gelyk het na die voorval verlede jaar.


’n Paartjie van Worcester is omgekrap nadat hulle onder dwang die terrein van ’n plaaslike ontspanningsoord moes verlaat weens ’n vermeende voorval waarin skade aan die eiendom aangerig is.

Tohiera Salie en haar man, Rameez, het die naweek van 25 Julie verlede jaar die ATKV Goudini Spa-ontspanningsoord buite Rawsonville besoek om haar verjaarsdag te vier. Die Salies, gereelde besoekers aan Goudini Spa, het saam met ’n ander paartjie ’n naweek daar bespreek.

Die aand het die twee paartjies besluit om ’n vuur aan te steek en ’n vleisie op die kole gesit. Min wetend het ’n brandende kool uit die braaier geval en agter die steenkoolsak beland.

“ ’n Klein vuurtjie het ontstaan en ons het dit dadelik geblus. Ons het groot geskrik, maar kon nie die skade vasstel nie. Ons wou dit dadelik aanmeld, maar dit was al laat die aand. Ons het toe klaargemaak en gaan slaap,” vertel hulle aan Standard.

Sy sê ’n spanningsvolle situasie het die volgende oggend by hul eenheid ontvou.

“Twee mans het hier opgedaag en ons ruimte betree. Hulle was dadelik baie ongeskik en het aanvallend teenoor ons opgetree. Hulle het dadelik geëis dat ons R3 500 kontant moet betaal, of die oord moet verlaat.

“Iets was net nie pluis oor die feit dat ons geld moes betaal nie,” voeg sy by.

Die situasie het toe uitgekring in ’n stryery en die twee paartjies het die oord verlaat.

Bykans ’n jaar ná die voorval meen die Salies hulle het alles in hul vermoë gedoen om met die oord in verbinding te tree, maar hul klagtes bly op dowe ore val.

“Ons het na hulle uitgereik en verantwoordelikheid geneem vir die voorval. Ons is weggejaag en moes my verjaarsdagnaweek elders verder gaan vier.”

Reinhard du Plessis, die bemarkingsdirekteur by ATKV-oorde, het aan Standard gesê hul weergawe van die gebeure stem nie ooreen met die Salies se klagte nie.

“Dit was gewis nie ’n klein vuurtjie nie. Die verf het al begin afdop. Die diensbestuurder is die oggend van die brandskade verwittig en het teen 12:00 die middag na die eenheid gegaan. Die Salies is gevra om die situasie eers te verduidelik voordat enige aantygings gemaak is. Almal se weergawes het verskil, maar toe word ons personeel gedreig. Een van die mans was baie aggressief. Die een vrou het ’n paar keer om verskoning gevra omdat haar man so aggressief en onbeskof gereageer het,” verduidelik du Plessis.

Die Salies ontken dit ten sterkste.

Du Plessis sê die Salie-egpaar is ’n paar opsies gebied. Die eerste opsie was om R3 500 te betaal weens die gebrek aan inkomste aangesien die eenheid herstel moes word, een die ander opsie was om die oord te verlaat.

“Hulle het gekies om die oord te verlaat. Die totale skade was bykans R7 000 met die verlies van inkomste ook nog. Ons hanteer elke voorval op meriete – ongelukke gebeur, en ons werk graag saam met ons gaste om enige ongelukke reg te maak en seker te maak almal is veilig en gemaklik. Ons beskou die saak as afgehandel.”

Die Salies hou vol dat hulle onregverdig behandel is en met die ATKV-oord probeer kommunikeer het om tot ’n vergelyk te kom, maar hulle is steeds ontevrede met hoe die saak hanteer is.

“Ons is soos misdadigers uitgegooi en niemand praat of kommunikeer met ons nie. Dit is swak.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article