Een van Villagers Worcester (Villa) se geliefde ondersteuners, Nicholas Lakey (72), meer bekend as Oom Nicky, is verlede Donderdag 27 Julie in die Worcester-hospitaal oorlede nadat hy drie dae tevore ’n asma-aanval gehad het.
Nicky, die jongste en enigste seun ná ses dogters van wyle Karel en Elizabeth Lakey, het sy laerskool-loopbaan aan die NGK Oefenskool ondergaan en tot gr. 9 aan die Hoërskool Esselenpark gevorder voordat hy die skool moes verlaat om by Simba te gaan werk, waar hy vir bykans 40 jaar was.
Hy is in 1975 met Christina Joseph getroud en drie seuns – Charles, Christo en Ivan – is uit die huwelik gebore.
Hy was ook die trotse oupa van 12 kleinkinders en vier agterkleinkinders, vir wie hy besonder lief was.
Nicky was ’n mense-mens en baie geliefd onder oud en jonk. Hy was veral onder sy oud-kollegas baie gewild en hulle vertel met passie oor Nicky en hul dae saam by die maatskappy.
Hy het nooit self aktief aan sport deelgeneem nie, maar was ’n baie groot ondersteuner van die destydse Flying Stars- sokkerklub van Worcester.
Sy ander groot liefde was rugby en veral Villa, waarvan hy nooit ’n tuiswedstryd misgeloop het nie en vroeër ook seker gemaak het hy woon waar moontlik selfs elke wegwedstryd by.
Sy ander groot liefde was koorsang en hy was saam met sy vrou vir etlike jare lid van die VGK-gemeente in Adderleystraat waar hy die gemeentes jare lank met sy pragtige tenoorstem vermaak het.
Hy was ook ’n stigterslid van die Rising Stars-mannekoor en het ook toegesien hy maak sy merk met hul optredes.
Oom Nicky word Saterdag (5 Augustus) om 10:00 ter ruste gelê, en die diens is om 09:00 by sy woning in Ysselstraat 119B.
’n Roudiens word ook vanaand (Donderdagaand) om 18:30 in die VGK Worcester (Adderleystraat) gehou.


