’n Plaaslike stoeier berei tans voor vir ’n kwalifiserende kompetisie vir die Olimpiese Spele op 16 Maart.

Edward Lessing (23) stoei al vandat hy nege jaar oud is.

“Maar toe ek jonger was, was rugby my keuse. Ek het stoei begin om my met my rugby te help.”

Later het hy egter meer op stoei begin fokus.

“Ek het drie SA kampioenskappe agtermekaar verloor. Toe dink ek, nou gaan ek julle wys. Ek het die vierde een waaraan ek destyds deelgeneem het, gewen.”

Hoewel hy onlangs Worcester toe verhuis het, ontvang hy sy afrigting by ’n nasionale afrigter, Kurt Herzog.

Lessing was voorheen ’n lid van die Alberton-stoeiklub in Gauteng, maar het om persoonlike redes na Worcester verhuis.

Die kwalifiserende kompetisie vind op 16 Maart in Egipte plaas. Terwyl hy daar is, gaan hy ook aan die African & Oceania-kompetisie deelneem.

Maar vir eers fokus hy daarop om onder die top-twee in die kwalifiserende ronde te eindig sodat hy kan kwalifiseer om aan die Olimpiese Spele deel te neem.

Lessing is nou besig met ’n agt weke lange oefenprogram ter voorbereiding.

“Ek sien nooit daarna uit om hard te oefen nie, maar ek is altyd opgewonde vir die resultate. Om aan die Olimpiese Spele deel te neem, is ’n droom van my vandat ek baie jonk was,” vertel Lessing.

Volgens sy afrigter het Lessing al 24 SA kampioenskappe in ’n ry gewen, asook vierde in 2022-Statebondspele geëindig.

Die Olimpiese Spele vind vanjaar van 26 Julie tot 11 Augustus in Parys, Frankryk, plaas.

. Kontak Lessing se afrigter, Kurt Herzog, by 076 918 4050 om ’n welkome bydrae tot die onkoste van Lessing se reiskoste te maak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article