Die plaaslike stoeier en afrigter van die nasionale o.17-stoeispan, Kurt Herzog, en een van sy studente, Corné Telleman, is genooi om volgende week aan die wêreld-stoeikampioenskap in Rome deel te neem.
Herzog is sedert 2016 ’n nasionale stoei-afrigter. Sy span het in Mei vanjaar aan die Afrikakampioenskap in Marokko deelgeneem en derde geëindig. Hierdie prestasie het die span vir die wêreldkampioenskap laat kwalifiseer.
“Dit is ’n great prestasie vir ons as ’n span. Ons is ook deur die United World Wrestlingorganisasie genooi om vir ’n week ná die wêreldkampioenskap aan te bly om kursusse by te woon. Hulle kies ’n afrigter en twee stoeiers van elke land,” verduidelik Herzog.
Nege van die stoeiers in die span wat Herzog afrig, het vir die wêreldkampioenskap gekwalifiseer. Net hy en Telleman van Worcester gaan dit gaan bywoon.
Telleman is ’n gr. 11.- leerder by HTS Drostdy.
Herzog sê om afrigter te wees, is great. “Jy floreer wanneer jou studente floreer. Jy ervaar elke emosie en mylpaal saam met hulle.”
Herzog en Telleman kort egter nog geld om die wêreld-stoeikampioenskap by te woon.
“Ek gaan al die laaste ses jaar oral saam my studente. Maar hierdie jaar het dinge baie vinnig gebeur. Die Afrika-kampioenskap was in Mei en ’n paar weke later is ons in kennis gestel dat ons aan die wêreldkampioenskap gaan deelneem. Ek kort nog R21 000 en Corné, dink ek, kort minder as R10 000. Dit is ongelukkig so omdat ons as amateursportmanne baie min finansiële steun van die owerhede kry; ons moet self ons onkostes dek.”
Volgens die brief van die Suid-Afrikaanse stoeifederasie moet Herzog altesaam R40 000 vir hierdie geleentheid insamel.
Enigiemand wat Herzog en Telleman met ’n geldelike skenking kan help, kan Herzog by 076 918 4050 kontak.





