Party mense se stilte is sag, ander hard, nog ander s’n weer vreedsaam of selfs vreesaanjaend. Myne was lank laasgenoemde – soveel so dat die openingslirieke van die liedjie “Hello darkness, my old friend…” vir my verregaande was.
Die donker weens my blindheid en die gepaar
dgaande al groter wordende stilte het my keel soms laat toetrek.
Die onsekerheid was die ergste.
Iewers in die Bybel staan geskryf, “ . . . my volk gaan ten gronde weens ’n gebrek aan kennis . . .”
Wel, ek het nie net ten gronde gegaan nie – ek was heeltemal platgeslaan, omdat ek nie verstaan het wat aan die gang is nie.
Nadat ek my sig aan die einde van graad elf aan ’n hoofstroomskool verloor het, moes ek my skoolloopbaan aan die Pionierskool voltooi.
Dit was ’n bitter pil om te sluk, aangesien ek reeds graad elf geslaag het en ook as onderhoofmeisie van ons skool gekies is.
Die verskil van vakke, asook die feit dat ek eers Braille magtig moes word, het veroorsaak dat ek weer graad tien vir ses maande en daarna weer graad elf die volgende jaar moes doen. Ek kon nie verstaan hoekom my ander blinde maatjies so goed kon hoor, terwyl ek soms dae lank heeltemal niks, behalwe ’n harde gesuis, kon hoor nie. Die gesuis sou dan, net so skielik soos wat dit gekom het, verdwyn, maar daarna sou my gehoor in die algemeen ’n klein bietjie swakker as voorheen wees.
Oor die jare het die gehoorverlies al erger en erger geword. Tydens my studie aan die Universiteit Stellenbosch moes ek dae aaneen tuis bly omdat klasbywoning feitlik nutteloos was. Ek het toe aan die einde van die derde kwartaal uit absolute desperaatheid my studie opgeskop – iets wat ek my jare later steeds nooit mee kon versoen nie. Ek wou so graag leer!
Dit was eers in 2016, tydens my studie by Innovation for the Blind, dat daar lig was.
“Jy’s doofblind,” het dr. Johan Pretorius van DoofBlind SA gesê. “Jy’s deel van meer as nege honderd duisend DoofBlindes in Suid-Afrika!” Met hierdie woorde word die lig uiteindelik pynlik aangeskakel.
When you know better, you do better! Gerat met hierdie nuwe kennis het ek baie beter gevaar.
Dr. Pretorius het my vingerspel geleer, sodat hy die woorde wat ek nie goed kon hoor nie, vir my kon spel, en so het ons treetjie vir treetjie my studie voltooi. Later het ek ’n kogliêre inplantaat ontvang.
Vandag lei ek ’n vol lewe. Ek is tans die nasionale voorsitter van DoofBlind SA en ’n direksielid van die SBA, die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans.
Hoe klink my stilte nou? Vreedsaam, vrolik, veilig!
Uiteindelik is my “silence” inderdaad “golden”!
Rochelle McDonald is ’n sprekende voorbeeld van drome wat wel waar word, ongeag jou persoonlike uitdagings. Sy is pas aangestel as nasionale ontwikkelingskoördineerder van DoofBlind SA.





