Chimoné Maartens
Wêreld Gloukoomweek (12-18 Maart) word gehou om bewusmaking te kweek van die tweede mees algemene oorsaak van blindheid in die wêreld.
Erath Swanevelder, ’n inwoner van Innovation for the Blind, is een van vele mense wat geraak word deur hierdie “stille sigdief”, maar dit bekommer hom nie – hierdie siekte steel dalk sy visie, maar nie sy gees nie!
Erath, wat sedert 2003 betrokke is by Innovation, werk in ons Tuinbouspan wat bestaan uit inwoners met visuele gestremdhede. Voor hy sy hande begin vuil maak het, was Erath jare gelede betrokke by ons matrasafdeling en het daarna leer matte weef in ons kreatiewe afdeling. Erath geniet ook fisieke aktiwiteite en is onder meer ’n kranige rolbalspeler, langafstandatleet en toegewyde Parkrun-deelnemer. Hy het vele toernooideelnames en medaljes om te getuig van sy liefde vir hierdie sportsoorte.
Gloukoom is by hom gediagnoseer toe hy 18 jaar oud was, en alhoewel dit onder beheer was, het sy sig erg begin agteruitgaan toe iemand per ongeluk sy vinger in Erath se oog gedruk het tydens karate-oefening, en sy lens verskuif het. Ná twee oogoperasies was sy kornea egter te erg beskadig en is sy lens heeltemal uitgehaal. Erath sê hy het al vrede gemaak met sy kondisie en is hy net bly om steeds aktiwiteite te kan doen waarvoor hy lief is. Hy bieg egter dat daar een ding is waarna hy verlang, en dit is vlieg. Sy pa, ’n vlugingenieur, het hom leer vlieg op ’n jong ouderdom. Vandag bly Erath saam met sy vrou, Sharon, in ons AS Cronjé woonstelle en los hulle maar die vlieg vir hul “drie geliefde budgies”.
Wat is gloukoom? Gloukoom is ’n toestand wat skade aan jou oog se optiese senuwee veroorsaak en mettertyd vererger. Gloukoom word veroorsaak as gevolg van agteruitgang van die optiese senuwee. Ouderdom, familiegeskiedenis, fisieke beserings aan die oog en verhoogde oogdruk is faktore wat die risiko van gloukoom kan beïnvloed. In die meeste gevalle is daar geen vroeë simptome of pyn nie. Een van die eerste tekens is dikwels verlies van perifere (kant-) visie, maar dit kan tot laat in dié siekte onopgemerk bly. Gloukoom is dikwels beskryf as die “stille verblindende siekte” omdat daar geen spesifieke simptome of aanduidings daarvan is nie. Vroeë opsporing van gloukoom is die sleutel tot die voorkoming van sigverlies en daarom die belangrikheid om elke twee jaar ’n volledige oogondersoek te laat doen.
Verskeie vinnige en pynlose toetse kan gedoen word om te bepaal of jy gloukoom het, insluitend visietoetse en metings van die druk in jou oë. Gloukoom kan nie voorkom of genees word nie, maar dit kan behandel en beheer word. Onmiddellike behandeling vir vroeë stadium-gloukoom kan die vordering van hierdie siekte vertraag – daarom is diagnose baie belangrik. As jy bekommerd is, kontak jou dokter of oogkundige.
As jy ’n verskil in die lewe van ’n siggestremde persoon, soos Erath, wil maak, kontak ons gerus by 023 347 2745, stuur e-pos na info@innovationfortheblind.org of besoek ons webwerf by www.innovationfortheblind.org




