Die Montagu-entrepreneur Roscoe Pekeur is tydens ’n byeenkoms in die Robertson-stadsaal deur die Wes-Kaapse minister van sport en kultuur, Anroux Marais, vereer.
Pekeur is beloon vir sy poging die afgelope 18 maande om boks as ’n gewilde sport in die Boland te vestig. Hy het die minister se aandag getrek toe hy boks vir die eerste keer in Montagu en omliggende dorpe aangebied het.
Hiermee het die minister haar plan momentum gegee om geskiedkundige stories op die platteland op video vas te vang en dit in die Kaapse argief sowel as in biblioteke oor die Wes-Kaap heen beskikbaar te stel.
Die plan om bokstoernooie aan te bied, het in die Covid-pandemie begin.
Die skool Warmbron Preprimêr het ’n finansiële knou gekry en een van die ouers, Cindy-Lee Benjamin, het voorgestel dat elke ouer of oud-leerder ’R100 skenk.
“Ek is ook vir R100 gevra, maar ek was werkloos en kon nie die R100 bydra nie. Dit het my só gepla dat ek aan idees gedink het om geld vir die skool in te samel.
“Dis waar ek toe op ’n YouTube-video afgekom het waar Prendell Crouwcamp van Montagu teen Conroy Williams van Barrydale geboks het. Nadat ek die video gesien het, het ek Prendell dadelik gekontak en gevra hoe ek moet maak om ’n toernooi te reël.
“Hy het my toe die SA coach, Theo Modise, se nommer gekry, en die res is geskiedenis,” vertel hy trots.
Pekeur se toernooie het die afgelope paar maande in Montagu, Swellendam, Ashton, Worcester, Barrydale en in die Strand plaasgevind.
Hy het ook ’n toernooi tussen twee kerke in Worcester en ’n oefenkamp ten bate van Bonnievale Outisme aangebied.
Ander pryswenners was Anmiray Opperman (kultuur-Kogoekwa), Reginald Boesak (grootwordjare en kultuur), Mareletta Mundey (maak Montagu aantreklik vir toeriste) en Hennah Flesch (ontstaan van Montagu en die twee museums).
’n Oorhandiging van DVD’s en ’n sertifikaat is ook aan Megan Faro, die bestuurder van Montagu-biblioteek, gedoen vir haar rol met die geskiedenisprojek.




