Brandvlei-hengelklub het Saterdag (12 November) die laaste kompetisie van die jaar in die Brandvleidam gehou, waar ’n sterk noordwestewind dié dag bemoeilik het. Die kompetisie is juis weens die wind twee ure vroeër gestaak.
Die troos was darem dat drie visspesies steeds in die dam voorkom – karp, baber en witvis, wat nie oral die geval is nie. Elk van dié spesies het aan die aas gebyt.
Johan Coetzee en sy seun, Zak, het uitsonderlik gevaar en elk dieselfde aantal visse gevang.
Die pa-en-seun-span het hiermee die A-sone gewen en is as die algehele wenners vir die dag gekroon.
Zak was as die beste junior vir die dag aangewys.
Jaco Bothma was derde in die A-sone, en tweede in die veterane-afdeling met Peppie van Tonder en Pierre Snyman in die derde en vierde plekke.
Wat die B-sone betref, het Danie Wilmot as die wenner van die veterane-afdeling weggestap, met sy seun, Jean, wat tweede was.





