ASHTON. – ’n Familie van Ashton vind dit moeilik om te glo ’n geliefde van hulle het sy eie lewe in polisieaanhouding geneem.
Adam Ewertson (57), oorspronklik van Ashton, is Saterdag 30 Desember 2023 in die vroeë oggendure dood in ’n aanhoudingsel by die Barrydale-polisiekantoor aangetref.
Ewertson het die afgelope paar jaar in die Barrydale-omgewing gewoon.
Hy is glo vroeër deur lede van die Barrydale-polisie ná ’n klagte van oproerige gedrag in hegtenis geneem.
Polisiebeamptes het omstreeks 02:00 op dié noodlottige ’n besoek aan die selle gebring en Ewertson na bewering opgehang in die sel gevind.
’n Familielid, Gwendolee Petoors (37), sê hulle was geskok en ontsteld toe hulle van hul oom se ontydige en vreemde dood in kennis gestel is.
Petoors, wat in Ashton woon, vertel: “Ons is van hier af (Barrydale toe). Ons het eerste na die huis waar hy gewoon het, gegaan sodat ons by daai mense kon hoor wat aangaan.”
Daarna is Petoors, haar ma, Jacoba, nog ’n tannie en Petoors se man na die Barrydale-polisiekantoor.
Sy sê toe hulle by die gemeenskapsdienssentrum (GDS) instap, was die ondersoekbeampte in haar oom se saak, ene sersant Pretorius, toevallig ook daar.
Petoors sê sy het toe aan die speurder gesê hulle kom vra oor Adam se dood; oor wat gebeur het.
“Voordat ons enigiets gevra het, het hy (Pretorius) gesê geen misdaad word vermoed nie. Nou wil ek weet, hoekom sê hy dan so? En ons het nog nie eens gevra nie,” vertel ’n ontstelde Petoors.
Hulle is toe saam met Pretorius na sy kantoor. Daar het sy meer vrae oor die omstandighede rakende haar oom se skielike afsterwe gevra.
Sy wou onder meer weet waarmee haar oom homself opgehang het en of hy alleen in dié betrokke sel was.
Volgens Petoors het Pretorius glo gesê haar oom het ’n kombers gebruik en ook dat hy alleen in die aanhoudingsel was.
Maar volgens Petoors kan sy nie glo dat haar oom ’n kombers kan opskeur nie. “My oom was sieklik. Hy’t kanker gehad. Hy het nie daai krag gehad om ’n kombers te skeur nie.”
By navraag oor die voorval het sers. Christopher Spies van die polisie se provinsiale mediakantoor Ewertson se dood in polisieaanhouding per e-pos bevestig.
“Die polisie van Barrydale het ’n geregtelike doodsondersoekdossier geopen nadat die liggaam van ’n man omstreeks 02:00 op Saterdag 30 Desember 2023 in die aanhoudingselle gevind is.
“Die omstandighede van sy dood word deur die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) ondersoek. Opod is in die beste posisie om meer inligting te verskaf,” sê Spies.
’n Skriftelike medianavraag wat Donderdag 25 Januarie aan Opod Wes-Kaap gerig is, is tot nou steeds onbeantwoord.





