Stephanie Pekeur is gereed vir die toekoms nadat Klop! tot ’n einde gekom het. Foto:


Stephanie Pekeur, ’n boorling van Worcester en die voormalige inhouds- direkteur van Klop!, is oop vir nuwe avonture nadat die program se laaste episode Sondag uitgesaai is.

Sy was al van die begin af betrokke by die program.

“Ek het destyds as joernalis by die koerant Son gewerk. ’n Oudkollega van my, wat toe al in produksie gewerk het, het my genader om vir Klop! te werk. Hulle het Shantel Moses eintlik eerste genader, maar toe wys sy dit van die hand en stel voor hulle nader my liewer. Ek het toe een oggend ’n onderhoud gehad en teen die middag was die offer in my inbox,” vertel sy.

Pekeur is ’n Worcesteriet in murg en been. Sy was ’n leerder by Esselenpark Primêre Skool, toe gaan sy Worcester-Oos toe en haar hoërskoolloopbaan het sy by Montana voltooi.

“My ouers was albei onderwysers. My pa, Steven, was ’n onderwyser by Worcester Sekondêr en my ma, Lenie, by Roodewal. Daar was ’n tyd dat ek werkloos was en my ouers wou toe hê ek moes my in die onderwys kwalifiseer.

“Daar kom toe ’n dag wat ons vorige buurvrou, ook ’n onderwyser, iemand gesoek het om die dag na haar klas om te sien, want sy moes die een of ander kursus bywoon. Ek hoef nie les te gegee het nie, dit was ’n gr. 4-klas. Dit was baie erg. Net daar is daai plan gestaak.”

Toe die Klop!-geleentheid aan haar gebied is, het sy nie gehuiwer om die kans met albei hande aan te gryp nie.

“Teen die tyd dat ek die onderhoud vir Klop! gedoen het, het ek reeds gevoel ek stagneer in my werk. Hoewel ek ’n bietjie bang was om die pos te aanvaar, het ek op die groter prentjie gefokus. En dit wat ek in die joernalistiek geleer het, het ek ook by Klop! aangewend– om mense te soek en inligting na te gaan en te bevestig.”

Sy meen al het sy soort van verwag dat Klop! tot ’n einde sou kom, was sy nie regtig daarop voorbereid nie.

“Dinge gebeur; tydgleuwe verander; formate verander. Ek het dit dus soort van verwag, maar dit was nie lekker om dit te hoor nie.

“Ek het die meeste op ons laaste vergadering gehuil.

“Ek moet nog gewoond raak aan die feit dat dit nou klaar is – gister het ek iets gesien en nog vir myself gesê, dit sal ’n lekker storie vir Klop! wees. Wat dít betref, is dit snaaks om nie meer heeltyd op die uitkyk te wees vir stories nie.”

Vir nou gaan Pekeur ’n dokumentêr voltooi waaraan sy verlede jaar begin werk het, maar het nog geen vaste toekomsplanne nie. “Ek is baie easy; ek gaan waar die windjie my waai.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article