Erin Fourie, die onderwyseres wat verlede jaar 22 keer met ’n mes in haar klaskamer gesteek is, het die hof gevra dat die saak teen haar aanvaller nie moet voortgaan nie.
Die staat het egter besluit om steeds voort te gaan.
Wilmur Valentine, wat intussen ’n pleitooreenkoms met die staat aangegaan het, het verlede week skuld in die hof beken op aanklagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer.
Standard het op 12 November (“Onnie 22 keer gesteek”) berig oor Fourie wat vir dood gelaat is nadat haar gewese kêrel haar in haar klaskamer by Worcester Sekondêre Skool 22 keer met ’n mes gesteek het.
Sy was alleen in haar klaskamer toe die voorval plaasgevind het.
Die hof het Woensdagoggend gehoor dat Fourie nie die saak wou verder voer nie.
“Die klaagster het vir die staat aangedui dat sy nie langer met die strafregtelike vervolging teen die beskuldigde wil voortgaan nie en het ook ’n verklaring, gedateer 12 Januarie 2022, ingedien. Die aanklaer het die klaagster indevolge die NVG-beleidsvoorskrifte oor die redes vir onttrekking geraadpleeg en besluit om wel met strafregtelike vervolging teen die beskuldigde voort te gaan,” het die aanklaer aan die hof voorgehou.
Die saak is voorheen uitgestel vir ’n pleit-en-vonnisooreenkom.
Volgens die staatsaanklaer is die ondersoekbeampte in die saak en die slagoffer oor die pleit- en vonnisooreenkoms geraadpleeg en al twee van hulle is tevrede daarmee.
Valentine het Woensdag in die streekhof skuld beken op die aanklag van aanranding met die doel om Fourie ernstige liggaamlike leed aan te doen.
Die voorgestelde pleit- en vonnisooreenkoms behels vyf jaar opgeskorte tronkstraf.
Die aanklaer sê die persoonlike omstandighede van die beskuldigde is deur alle betrokke partye in ag geneem.
Landdros Clifton Maseti het die saak tot 26 April uitgestel sodat hy die pleitooreenkoms en verslag van die maatskaplike werker kan nagaan voordat hy sy finale beslissing maak.
Volgens Maseti moet die hof oorweeg of die pleit- en vonnisooreenkoms wel in hierdie omstandighede regverdig is.
Valentine bly in aanhouding tot dan.





