Die familie van Sagrya Engelbrecht, wat vroeër vandeesmaand in haar rolstoel buite die Huis Maudie- ouetehuis in Ceres dood is, wag steeds op antwoorde.
“Ons wag nog om te hoor van die polisie en die ouetehuis oor hul vordering,” het Sorita Kleyn, een van Engelbrecht se dogters, aan Standard gesê.
Kleyn het ook ’n gesamentlike verklaring deur die familie aangestuur. Die verklaring lui as volg: “Ons familie is Sondag 7 Augustus deur Huis Maudie Kriel in kennis gestel van ons moeder se afsterwe. Hierdie is vir ons ’n baie moeilike tyd en ons sukkel om vrede te maak met baie aspekte rakende die voorval, juis omdat ons baie vrae en min antwoorde het. Ons moeder was ’n saggeaarde mens met ’n sagte stemmetjie en die beweerde wyse waarop sy gesterf het, breek ons op die oomblik. Tans wag ons op die uitslae van die ondersoeke wat gelas is en hoop om só meer antwoorde op ons vrae te kan kry. Ons as familie wil graag almal bedank vir hul ondersteuning en vra dat die media ons eers kans gee om ons moeder ter ruste te lê voor ons enige verdere vrae gaan beantwoord of onderhoude sal toestaan.”
Sagrya is glo die Saterdagaand (6 Augustus) na buite geneem om te gaan rook en is vermoedelik buite die tehuis vergeet. Sy is Sondagoggend 7 Augustus om 07:45 dood op die toneel aangetref.
Standard het ook self navraag by die polisie gedoen oor hul vordering in die ondersoek na die omstandighede wat na Engelbrecht se raaiselagtige dood gelei het.
Die polisie het die volgende geantwoord: “Die omstandighede rakende die dood van ’n vrou by ’n tehuis vir bejaardes in Ceres word ondersoek,” het die provinsiale polisiewoordvoerder, AO Joseph Swartbooi, gesê.
’n Navraag is aan die tehuis gestuur oor die vordering in hul ondersoek wat tot die dood van die 81-jarige inwoner gelei het. Die navraag is na hul prokureurs gestuur, maar geen terugvoering is ontvang nie.


