Shooting Stars het Saterdag (22 Junie) ’n Superliga-wedstryd op die Esselenpark-stadion teen Mighty Strikers van Slanghoek gespeel.
Die wedstryd het met aanvallende sokker van albei spanne begin en Stars het ná net twee minute eerste bloed geruik met Rumark Cupido wat die eerste doel aangeteken het.
Hierna het Stars aangeval en is beloon toe Rumark Cupido sy en sy span se tweede doel aangeteken het (2-0).
Mighty Strikers se afrigter het twee veranderings in die eerste helfte gemaak en Stars onder geweldige druk geplaas, maar die doelwagter, Ivan Klein, het puik werk in die doelhok gedoen. Die rustyd-telling was 2-0 in Stars se guns.
Ná die eerste helfte het Shooting Stars gesukkel om die Strikers se verdediging af te breek, maar dit was eintlik Strikers wat uitgeblink het met pogings na Stars se pale.
Ná 20 minute in die tweede helfte het Stars se doelskieter, Eltieno Maans, weer afgerond nadat die Strikers-verdediging ’n fout begaan het – telling 3-0 vir Stars.
Dit was die begin van die einde vir die besoekers toe Deacon Gertse afgerond het ná mooi spel deur die middelveld met 4-0 vir Stars.
Met net vyf minute oor in die wedstryd, het Ra’ees January vir Hilton Hendricks gevoer, wat mooi afgerond het met ’n “doodskoot” van ’n doel met 5-0 as die eindtelling



