Die befaamde aktrise Lizz Meiring sal tydens die Klein Karoo-Camino optree.


Avontuurlustiges en kultuurliefhebbers kan gereed maak om die asemrowende Klein-Karoo saam met Lizz Meiring te verken – en dit vir ’n goeie doel.

Lizz en haar vriendin, die kranige stapper Sandra Odendaal, sal in November in die Klein-Karoo gaan kuier. Sandra sal die Camino van die Sandsteenkerke stap om geld vir Solidariteit Helpende Hand in te samel, terwyl Lizz die lagspiere gaan prikkel met optredes van haar vertoning Van die rak af.

Hierdie onvergeetlike reis word deur die Klein Karoo Camino aangebied en bied ’n unieke kombinasie van kultuur, natuur en vermaak. Die Klein-Karoo is vol historiese plekke, van sandsteenkerke tot katedrale en sinagoges, wat die geloof en kultuur van die streek uitbeeld.

Vir stappers begin die avontuur op Sondag 10 November by die Baron’s Palace Hotel in Oudtshoorn en beloof ’n week van inspirasie en ontdekking:

. Dag 1: Begin die reis met die sjarme van die Klein-Karoo en die Baron’s Palace Hotel;

. Dag 2: Verken Dysselsdorp se Kruiskerk en geniet ’n olyfproeëry by De Rustica-olyfplaas. Verblyf by die Oudemuragie-gasteplaas;

. Dag 3: Besoek Oudtshoorn se historiese geboue en sluit die dag af met ’n sterrekyk en aandete;

. Dag 4: Verken die Kango-grotte en geniet ’n middagete by die NG Kangovalleie se Bybelse Tuin. Woon Lizz Meiring se optrede in die Oudtshoorn-burgersentrum se ouditorium by;

. Dag 5: Eindig die reis met ’n besoek aan die NG Moedergemeente en wynproe by die De Krans-wynlandgoed in Calitzdorp.

Inwoners en die publiek sal die geleentheid kry om Lizz se vertoning by die volgende plekke te sien:

. Woensdag 13 November by die Oudtshoorn-burgersentrum;

. Vrydag 15 November in Mosselbaai by die Hoërskool Punt;

. Saterdag 16 November in George by die Eden-gemeente;

. Donderdag 14 November in Calitzdorp by die De Krans-wynlandgoed.

“Die Camino van die Sandsteenkerke is meer as net ’n toer. Hierdie inisiatief is daarop gemik om mense se lewe te verryk deur hulle aan die omgewing en mekaar te verbind, terwyl geld vir Solidariteit Helpende Hand se onderskeie projekte om gemeenskappe te ontwikkel, ingesamel word. Dit is ’n geestelike, fisieke en emosionele ervaring wat jou nader aan jouself, die natuur en God sal bring,” sê Alisha de Lange, Solidariteit Helpende Hand se streeksbestuurder van die Wes-Kaap.

Sluit aan by dié inspirerende avontuur en laat jou siel gevoed.

. Besoek www.kleinkaroocamino.co.za vir meer inligting en om te bespreek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article