Die gelukkige wenner van Standard se leserskompetisie van twee inskrywings van die SPAR Virtual Challenge 2022, is Sybil Lawrence. Baie geluk!
Vanjaar se wedloop op 3 September sal voortbou op die wegholsukses van verlede jaar se aanbieding toe inskrywings landwyd oop was.
As ’n virtuele gebeurtenis het die wedloop geen geografiese grense nie. Deelnemers kan besluit oor hul roete en pas, en of hulle dit alleen, saam met vriende, familie of as ’n groep wil doen.
Vanjaar se tema, soos uitgewys deur die hutsmerk #IRise, is ’n viering van hoe Suid-Afrikaanse vroue hul uitdagings oorwin. Die SPAR Women’s Virtual Challenge 2022 moedig alle deelnemers aan om hul krag in te span, die #IRise-filosofie aan te neem en deel te word van ’n samewerkende gemeenskap wat gesamentlik bo hul uitdagings uitstyg.
Die wedloop is ’n simbool van Suid-Afrikaanse vroue se veerkragtigheid en krag te midde van die onsekerheid en twyfel wat deur die Covid-19-pandemie meegebring is. Hoewel die regering die ramptoestand opgehef het, bly die pandemie in ons midde, wat SPAR weer eens aangespoor het om die pragtige wedloop die virtuele ruimte in te neem.
“Vir die veiligheid van ons deelnemers en die ongekende tye waarin ons, ons bevind, hou ons vanjaar weer ’n virtuele wedloop,” sê Charlene Subbarayan, SPAR se groepborgskap- en -geleenthedebestuurder.
“Dit beteken egter nie ons gaan minder pret hê nie. Kry jou vriende bymekaar, werk ’n roete naby aan jou uit en deel die pret deur ons in jou foto’s te merk met #IRise #YourRaceYourPace.”. Sybil kan haar prys by Worcester Standard se kantoor by Hoogstraat 116 kom afhaal.



