By vanjaar se Agri Wes-Kaap-jaarkongres is van links Jannie Strydom (uitvoe­rende hoof van Agri Wes-Kaap), Villiers Loubser (president van Agri Wes-Kaap) Moeletsi Mbeki, Darrel Jacobs (vise-direkteurgeneraal), Heinie du Toit (vise-president van Agri Wes-Kaap) en Johann Kotzé (uitvoerende hoof van Agri SA).Foto:


Agri Wes-Kaap het in Augustus sy jaarlikse kongres by Goudini Spa in Rawsonville gehou, waar lede van oor die provinsie heen bymekaargekom het om landbousake te bespreek.

Die tema van hierdie jaar se kongres was “Gegrond in Betroubaarheid”, ’n weerspieëling van die kernwaardes wat lede na aan die hart lê.

Die kongres, wat oor twee dae gestrek het en deur ongeveer 210 kongresgangers bygewoon is, was weer eens ’n bewys van die bydrae en rol van georganiseerde landbou in die Wes-Kaap en Suid-Afrika. Kongresgangers het die geleentheid gekry om uitdagings wat hulle ervaar, vir bespreking voor te lê.

Dit was wonderlik om die positiewe gesindheid van produsente te ervaar en dat hulle, ondanks verskeie uitdagings, steeds voortgaan om topgehalte landbouprodukte te produseer, het Liam Viljoen, voor­sitter van die Agri Wes-Kaap se algemene Sakekamer, gesê. “Dit is ’n voorreg om geas­sosieer te word met ’n organi­sasie wat landbouprodu­sente sonder ’n gelyke in die wêreld dien.”

Hy meen verder dat ’n glans­ge­leent­heid soos hierdie die geleentheid aan landboupro­dusente van oor die provinsie heen bied om by mekaar te leer en ook hul sake te stel aan die politici en beleidvormers wat landbou in die Wes-Kaap beïnvloed.

By die kongres is gefokus op die belangrikheid van betroubaarheid in die huidige uitdagende, veranderende landbou-omgewing. Agri Wes-Kaap het ook erkenning gegee aan die volgehoue betrokkenheid van verskillende rolspelers in die landbousektor.

Johan Hopkins, ’n stigterslid van die Kaapse Agri Werkers­orga­nisasie, waar hy ook vyf jaar die uitvoerende hoof was, is vereer vir sy betrokkenheid en dienste wat hy aan die landbou-arbeidsektor lewer. Colin Deiner is vereer vir die bystand wat hy en die provinsiale rampbestuur­sentrum aan die landbousektor in die Wes-Kaap bied.

Uys van der Westhuijzen, voorsitter van Agri Wes-Kaap se landelike veiligheid beleidsko­mitee, het die oorhandiging van die toekenning vir beste polisie­distrik en -kantoor in die Wes-Kaap behartig. Agri Wes-Kaap oorhandig jaarliks hierdie toekennings omdat dit belangrik is om erkenning te gee aan die manne en vroue wat hulle daaraan toewy om die landbou- sektor in die Wes-Kaap te dien. AO WJ van Zyl en Worcester se veediefstaleenheid het die toekenning vir beste veediefstal- lid en -eenheid gewen.

Die Wes-Kaap se minister van landbou, ekonomie & toerisme, dr. Ivan Meyer, het sy prioriteite vir die volgende vyf jaar met kongresgangers gedeel, asook sy dank oorgedra vir die goeie samewerking tussen Agri Wes-Kaap en die Wes-Kaapse departement van landbou.

Villiers Loubser, die president van Agri Wes-Kaap, het in sy toespraak die kritieke rol wat boere in die Wes-Kaap vervul, beklemtoon en hulle bedank vir hul onwrikbare toewyding en veerkragtigheid. “Met die terug- kyk na die jaar is ons vol hoop – hoop dat ons saam sal voortbou op die stewige fondasie wat ons al gesmee het; hoop dat ons mekaar in tye van nood sal ondersteun.”

Tydens die kongres is Loubser, ’n graanprodusent van Durban­ville, as president herkies en Heinie du Toit van die Koue Bokkeveld, Ceres, is as vise-president van Agri Wes-Kaap herkies.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article