’n Netbalbaan by Esselenparkstadion in Worcester wat gedeeltelik bedek is met sand, water en plante en nie skoon gemaak word nie.Foto: Jana Scheepers


Kommer word uitgespreek oor Esselenparkstadion in Worcester se netbalbane, wat dikwels vir toernooie gebruik word, maar volgens sportlui steeds nie genoegsame instandhouding geniet nie.

Mildred van der Ross, die voorsitter van die La-Bré netbalsubdistrik, het Standard genader oor die toestand van dié bane en die wyse waarop die Breedevallei-munisipaliteit (BVM) kommunikasie hieroor hanteer.

Volgens Van der Ross het die netbalbane sedert 2012 stelselmatig verswak weens ’n gebrek aan gereelde instandhouding.

Van der Ross sê sy het destyds al met die BVM daaroor gekommunikeer, maar niks bereik het nie. Sy het in Februarie weer die klagtes bevestig.

Volgens haar het sy die munisipaliteit in Februarie gekontak en verduidelik die netbalbane is gekraak die oppervlak is glad en gedeeltelik met sand, water en plante-afval bedek, terwyl gras en onkruid in die krake op die baan groei.

Sy verduidelik al hierdie faktore kan bydra tot onveilige baanoppervlaktes wat onnodige beserings kan veroorsaak.

Van der Ross het aan die Standard gesê sy het die munisipaliteit reeds verskeie kere daaroor genader, maar haar pleidooie het telkens op dowe ore geval.

Haar volgende stap sal wees om die burgemeester, Antoinette Steyn, om hulp te nader.

“Die ligawedstryde het op 15 April begin en daar was steeds nie ’n verbetering van Februarie af nie,” het Van der Ross gekla.

Die La-Bré-netbalsubdistrik se voorsitter het gesê daar is altesaam sewe netbalbane, maar slegs ses kan gebruik word, omdat een geheel en al onbruikbaar is weens gras en onkruid wat daarop groei.

Volgens haar doen die BVM se opsigter op dié perseel alles in sy vermoë om die netbalbane in stand te hou, maar met twee tot drie werkers gaan dit maar broekskeur omdat die krieket-, sokker- én rugbyvelde ook tyd verg.

Die La-Bré-netbalsubdistrik bestaan uit 24 netbalklubs van die Breedevallei- en Langeberg- munisipaliteite en sluit 49 netbalspanne in.

Standard het by die BVM navraag gedoen, maar teen druktyd steeds geen terugvoering ontvang nie.


Standard sal die BVM se terugvoer publiseer sodra dit verkry word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article