Die Breedevallei se vorige burgemeester en voormalige lid van die parlement, Basil Kivedo (71) wat op Maandag 3 Oktober aan ’n hartaanval dood is, het die afgelope naweek ’n besondere afskeid gehad.
Nuus van Kivedo se afsterwe het skokgolwe deur die gemeenskap gestuur en boodskappe van medelye is wyd op sosiale media gedeel. Op Vrydag 14 Oktober het president Cyril Ramaphosa ’n spesiale staatsbegrafnis aan Kivedo toegeken.
Hierdie volg na talle in die gemeenskap gepleit het vir ’n besondere afskeid om die lewe van hierdie merkwaardige leier, man, pa en vriend te vier.
Kivedo se verassingsdiens wat as ’n amptelike staatsbegrafnis gelei is, het by die familiehuis in Worcester begin. Daarna is die verrigtinge verder gevat na die VGK Kerk in Worcester.
Lede van die polisie en selfs oud-militêre lede het in uniform ’n erewag gevorm om sy lewe en nalatenskap te vier.
In ’n vorige berig wat Standard publiseer het, het talle getuig van ’n regverdige man wat altyd ’n storie gehad het om te vertel en altyd gereed was om sy medemens te help.
Talle prominente figure, inwoners, oudkollegas, familie en vriende het hierdie spesiale diens bygewoon en alhoewel ’n afskeid van so aard diep emosie ontlok, was die gees van die bywoners positief en met die doel om Kivedo se lewe optimaal te vier.
Sy familie het ook getuig vir sy liefde en passie vir die Here en het tot sy einde toe die Here met oorgawe gedien.
“Jesus sal ons laste dra. Hy gee alles wat ons vra. Wonderlik om dit te weet. More sal die son weer skyn.”
So het een van die versreëls in die laaste gesang van die diens gelui.
“Die aantal persone wat in die volgepakte kerk bymekaargekom het, getuig van die persoon wat hy was. Hy was geliefd en gerespekteer deur talle,” meen Manuel Preston, ’n bywoner van die diens.
Kivedo se kleinniggie, Sadie Hector, vertel daar haar oom nie net ’n impak in die Wes-Kaap gehad het met sy strewe na vryheid en soeke na gelykheid nie, maar ook op haar en die breër familie.
“Hy was ’n ikoon en het soveel lewens aangeraak. Die wond wat ons tans voel, is diep. Oom Basil sal onthou word vir sy vriendelikheid. Ons is vol trots wanneer ons oor hom praat.
“Hy het nooit iets slegs te sê gehad oor ander nie en het die kuns van storievertel bemeester. Hy was ’n regte mense-mens,” verduidelik Hector.





