Tientalle optoggangers, onder wie talle kinders, het Vrydag (31 Mei) aan ’n kinderbeskermings-bewusmakingsveldtog deelgeneem toe hulle ’n optog gehou het van die kantoorgebou van die departement van maatskaplike ontwikkeling in Durbanstraat, Worcester, tot by die Sean Kelly-dagsorgsentrum in Waterloostraat.
Kinderbeskermingsweek word jaarliks van 28 Mei tot 4 Junie gevier wanneer kinders en die breër publiek opnuut bewus gemaak word van die regte van kinders soos uiteengesit in die Grondwet.
Die inisiatief is Vrydag ondersteun deur afgevaardigdes van onder meer die departement van maatskaplike ontwikkeling en -justisie, die Breedevallei-munisipaliteit (BVM), Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit, die polisie, die Breedevallei-vereniging vir en van mense met gestremdhede, Thuthuzela-sorgsentrum, verskeie organisasies sonder winsoogmerk, staatskommunikasie-inligtingsdienste en die Sean Kelly-dagsorgsentrum.
Kinders met sensoriese gestremdhede word by die Sean Kelly-dagsorgsentrum versorg.
Jacqueline Davids, ’n maatskaplike werker en program-koördineerder, sê die gemeenskap en rolspelers het deur middel van die optog gewys hulle staan saam teen enige vorm van kindermishandeling.
Die belangrikheid van ouers se rol in die ontwikkeling van ’n kind is ook beklemtoon.
Volgens Davids moet ouers se rol van só aard wees dat dit ’n positiewe uitwerking op hul kinders se lewe het sodat die kind op alle vlakke kan floreer. “Dit is ook belangrik om kinders met verskillende gestremdhede en spesiale behoeftes by hierdie proses in te sluit, omdat hulle die mees kwesbares is.”
Afgevaardigdes van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit het ná Vrydag se program op versoek van die departement van maatskaplike ontwikkeling doeke vir volwassenes aan die Sean Kelly-dagsorgsentrum gegee.




