Breedevalleiers en Langebergers het vanjaar rede gehad om tydens die 2024-Olimpiese Spele in Parys voor die kassie vasgenael te sit.

Credit: Lise Beyers

Tydens vanjaar se Olimpiese Spele, wat in Parys, Frankryk, gehou is, was die gemeenskap van die Breedevallei en Langeberg voor die kassie vasgenael ter ondersteuning van verskeie atlete van hier, wat Valleiers behoorlik trots gemaak het.

Worcester se Rogail Josef het inwoners behoorlik laat asem ophou toe sy na die halfeindronde van die 400 m-hekkies vir vroue deurgedring het. Sy het in die Stade de France in Parys ’n persoonlike beste tyd behaal toe sy in die tweede uitdunronde in 54,56 sekondes tweede geëindig het.

Ná haar uitsonderlike vertoning het die gemeenskap van Worcester die strate ingevaar om hul hekkies-uitblinker te vier.

Benewens Rogail het nog sportlui uit die Breedevallei en Langeberg by die Spele gepronk. Montagu se Ronald Brown en Worcester se Christie Grobbelaar was lede van die Blitsbokke-span wat brons gewen het. Hierdie was Brown se tweede keer dat hy aan die Spele deelgeneem het.

Chauncey Johnson, ’n oud-leerder van Victoriapark Primêr en die Hoërskool Esselenpark, is daar in die kleure van Duitsland, waar hy die afrigter van die nasionale paalspringspan is. Ook Worcester se Francois Prinsloo het as diskusgooier aan die spele deelgeneem. Dié Worces­ter Gim-alumnus woon en studeer tans in Amerika.

Die Ceres-boorling Adrian Wildshcutt het ’n epiese wed­loop in die 10 000 m gehad en deur die grens van 27 minu­te gebreek. Hoewel Adrian 10de geëindig het, was sy tyd (26:50,64) vinniger as sy vorige rekord.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article